Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het aangedui die befondsingsmodel vir plaaslike regering word hersien aangesien sommige van die aannames van die bestaande model verkeerd is.
# En Netwerk24-webblad:
Berig die 2024-matriekuitslae mag gepubliseer word nadat die Hooggeregshof in Pretoria beslis het die Inligtingsreguleerder moes nie tot die laaste minuut gewag het om ‘n dringende aansoek in te dien nie.
Dan skryf die blad die soektog na twee meisies in Pretoria is afgelas nadat dit aan die lig gekom het dat daar te min inligting of bewyse beskikbaar is dat daar wel twee kinders verdwyn het.
En laastens word berig die liggaam van die 43-jarige boer van Frankfort in die Vrystaat, Riaan Heine is gevind nadat hy in ‘n spruit meegesleur is toe hy sy dogter gered het.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Berig Shauwn Mkhize se sokkerklub, Royal AM is besig om in duie te stort nadat dit onder kuratorskap geplaas is weens belastingprobleme. Die klub het ook nie salarisse in Desember betaal nie.
# Sowetan:
Lei ook met die probleme wat Royal AM ondervind.
# En The Citizen:
Skryf die polisie in die Oos-Kaap het gevra dat baba’s nie bloot weggegooi moet word nie, maar eerder by hulle ingehandig word sodat maatskaplike werkers kan sorg vir gesondheidsorg en ‘n veilige hawe.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die publikasie van die matriekuitslae.
En tweedens word berig meer as twee-duisend-700 gevalle van mense wat deur jellievisse gesteek is, is sedert 1 Desember teen die Mosselbaaise kus aangemeld.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig godsdiensleiers en inwoners van die noordelike gebiede van Nelson Mandelabaai het onderneem om op te staan teen bendes om die plaag van misdaad in die gebied te bekamp.
En tweedens skryf die koerant daar was minder gevalle van dieremishandeling vergeleke met die vorige feestyd, maar ‘n paar skokkende voorvalle is steeds aangemeld.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf oudpresident Jacob Zuma sê hy is steeds lid van die ANC en erken nie die beëindiging van sy lidmaatskap nie.
En tweedens word berig oor die ondersoek teen FlySafair oor bewerings van oorbesprekings.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die man wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie in haar woonstel vermoor het, het bevestig hy het haar verwurg, maar sê dit was ‘n ongeluk.
Dan skryf die koerant inwoners aan die buitewyke van Windhoek wat deur kitsvloede haweloos gelaat is, probeer weer ‘n tuiste skep.
En laastens word berig die Verkiesingskommissie sê hy is besig om betalings aan kiesbeamptes en voertuigeienaars af te handel.