Nuus 06:00
BULLETIN 9 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ANC het die regte prosesse gevolg om Zuma se lidmaatskap te beëindig
# Die Nasionale Verbruikerskommissie ondersoek bewerings oor FlySafair se oorbesprekings
# En motorsport: Henk Lategan bevestig sy algehele voorsprong by die Dakar-veldren
# Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa sê volgens die party se grondwet is die regte prosesse gevolg om oudpresident Jacob Zuma se lidmaatskap te beëindig. MK-partyleier Zuma, het die ANC tot 31 Januarie tyd gegee om hom as ‘n lid van die party te herstel of regstappe in die gesig te staar. In ‘n brief aan die party het hy minstens 12 vermeende oortredings deur die ANC in sy tugproses gelys. Ramaphosa sê die tugproses teen Zuma is afgehandel:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het met ‘n ondersoek na FlySafair begin ná bewerings van oorbespreking en oorverkope. Die kommissie hersien FlySafair se voldoening aan die Wet op Verbruikersbeskerming en het inligting by die lugdiens aangevra om met die ondersoek te begin. Die hoof van klagtes en ondersoeke, Prudence Moilwa, sê die ondersoek kry voorkeur en het ‘n beroep gedoen op verbruikers wat geraak is om met enige toepaslike inligting na vore te kom:
# Advokaat Charles Mnisi het in die Pretoriase Hooggeregshof bevestig hy neem oor as regsverteenwoordiger vir beskuldigde nommer een, Muzi Sibiya, in die Senzo Meyiwa-moordverhoor. Dit volg na die skielike dood in Desember van Sibiya se prokureur, Thulani Mngomezulu. Mnisi het die hof verseker dat voorbereidings vir die verdediging aan die gang is. Mnisi verteenwoordig ook beskuldigde nommer drie, Mthobisi Mncube. Meyiwa se verhoor word na verwagting op 20 Januarie hervat.
# Die DA in Tshwane het die eerste fase van die lewering van skoon water aan Hammanskraal geloof, ‘n projek wat onder sy koalisieregering begin is. Die DA se koukusleier, Cilliers Brink, prys Magalies Water vir sy pogings om water uit die Pienaarsrivier te suiwer en die besoedelde Apiesrivier te omseil. Hy het beloof om infrastruktuur te beskerm, betalingstelsels en watermeting te monitor, sowel as om voortgesette toesig te bied ondanks die belangrike mylpaal:
# Die aangewese president, Donald Trump, het die Amerikaanse Hooggeregshof versoek om sy vonnisoplegging in die swyggeldsaak uit te stel, ‘n uiters ongewone versoek wat deels staatmaak op die hofbesluit verlede jaar om hom algemene immuniteit toe te staan. Die versoek volg nadat ‘n appèlhof in New York sy versoek geweier het om sy vonnisoplegging Vrydag uit te stel. Trump se prokureurs het aan die hof gesê die uitstel is nodig om ernstige onreg en skade aan die instelling van die presidensie en die bedrywighede van die federale regering te voorkom.
# Motorsport: Suid-Afrika se Henk Lategan het sy algehele voorsprong by die Dakar-veldren in Saoedi-Arabië behou, nadat hy tweede in fase vier geëindig het. Die plaaslike gunsteling, Yazeed Al-Rajhi, het fase vier tussen Al Henakiyah en Al-Ula gewen met die Argentyn, Juan Cruz Yacopini, in die derde plek. Al-Rajhi is nou algeheel tweede, net minder as sewe minute agter Lategan, met Swede se Mattias Ekstrom 21-minute-en-40-sekondes agter hulle in die derde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-195-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….