Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inligtingsreguleerder sê sy bevel teen die Departement van Basiese Onderwys oor die publikasie van matriekuitslae bly van krag
# Die Rooi Kruis vra vir veilige en ongehinderde toegang tot Gaza met babas wat in die koue sterf
# En, tennis: Ben Shelton verloor die stryd van die jong spelers in Auckland
# Die Inligtingsreguleerder sê die Departement van Basiese Onderwys voldoen steeds nie aan sy opdragte ingevolge die Wet op Persoonlike Inligting nie. Dit nadat die Hooggeregshof in Pretoria teen die dringende aansoek van die reguleerder beslis het om die publikasie van die 2024-matriekuitslae in die media te verbied. Die reguleerder is teleurgesteld oor die uitspraak, maar meen steeds die publikasie van die uitslae is strydig met die wet. Hulle sal steeds hulle bevele afdwing en verwag van die departement om gehoor te gee. Die regulueerder sê hy sal verdere regstappe doen, indien nodig.
# Die Save South Africa-burgerlike beweging doen ‘n beroep op die regering om die werkersklas voorop te stel en werksgeleenthede te red. Dit gebeur terwyl ArcelorMittal-Suid-Afrika besluit het om sy bedrywighede in Newcastle en Vereeniging te sluit, wat omtrent 35-persent van die maatskappy se werksmag sal raak. Die beweging se voorsitter in Gauteng, Lerato Moshesh, sê die regering van nasionale eenheid se belofte van werkskepping en sakesteun is moeilik om te glo want hulle sien uitdienstellings en afskaling van besighede:
# Die Rooi Kruis het ‘n beroep gedoen vir veilige en ongehinderde toegang tot Gaza om broodnodige hulp te verleen aan die oorloggeteisterde Palestynse gebied, wat as gevolg van hongerte ly en waar babas weens die koue vries. Swaar reën en oorstromings het die tydelike skuilings in Gaza verwoes en duisende het tot 30-sentimeter water in hul beskadigde tente gehad. Die Rooi Kruis het met verwysing na die Verenigde Nasies, die dood van agt pasgebore babas uitgelig wat in tente gewoon het sonder warmte of beskerming teen die reën en die dalende temperature.
# Tennis: Die topgekeurde, Ben Shelton, van Amerika se voorbereiding vir die Australiese Ope het ‘n terugslag gehad met ‘n onverwagse nederlaag by die Auckland Classic teen die Tsjeggiese tienersensasie, Jakub Mensik. Wêreld nommer 21, Shelton, het in sy eerste wedstryd in bykans twee maande sy rieme in die tweede ronde styfgeloop met 7-6, 4-6, 7-5. Die 22-jarige Amerikaner het in die eerste ronde ‘n loslootjie gehad en het sterk afgeslaan, maar kon nie met die bestendigheid van die 19-jarge teenstander se grondhoue kers vashou nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-467-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-87-sent per vat.
# Ten slotte: Navorsers van die Universiteit van Kaapstad en die Kameelperd-bewaringstigting het bevestig dat ʼn studie wat op kameelperde se genetika gebaseer is, vier nuwe, afsonderlike spesies ontdek het. Die span het die grootste bekende data-stel van enige medium tot groot diere versamel deur 515 3D-skanderings van kameelperdskedels uit Afrika se nasionale parke, wildplase, taksidermiste en museumversamelings wêreldwyd te versamel. Professor Nikolaos Kargopoulos van die universiteit sê die bestaan van vier afsonderlike kameelperd-spesies hou duidelike gevolge in vir hul bewaring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….