Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mandela se kleinkind onder gearresteerde verdagtes van ‘n gekaapte voertuig
# Krieket: Nieu-Seeland vernietig Sri Lanka se toporde om die eendagreeks te beklink
# En, ‘n Franse tydskrif uitgegee deur outistiese joernaliste word vandag bekendgestel
# Beamptes van die Taktiese Reaksie-eenheid van die Johannesburgse Metropolisiedepartement het ‘n kleinkind van oudpresident Nelson Mandela in hegtenis geneem nadat hulle ‘n gekaapte voertuig en ‘n ongelisensieerde vuurwapen by ‘n eiendom in Houghton, wat eens deur Nelson Mandela besit was, teruggevind het. Vier ander verdagtes is ook in hegtenis geneem. Woordvoerder van die departement, Xolani Fihla, sê die slagoffer van die kaping is veilig en ongedeerd:
# Die Mededingingskommissie sê hy is bly dat die meeste skole sy riglyne nakom. Dit volg nadat die kommissie sy verslag oor die uitkomste van ingrypings in skooldragverkryging, bekend gemaak het. Gesinne berei tans voor vir die 2025-skooljaar en Karabo-Motaung Mohlala van die kommissie sê stygende koste van skooldrag en skryfbehoeftes is steeds ‘n aansienlike las. Sy het aan SABC News gesê skole moet hul verskaffers-databasis uitbrei om mededingende pryse aan te moedig:
# Die polisie het ‘n 17-jarige ma in Umlazi in hegtenis geneem nadat haar een-jarige kind homself na bewering geskiet het toe hy met ‘n geweer gespeel het. Arrive Alive sê die voorval het Maandag in die J-afdeling plaasgevind. Polisieverslae dui aan die seun was alleen in die huis terwyl die ma die erf gevee het. Sy het ‘n skoot gehoor en haar kind met ‘n skietwond aan die voorkop gekry. Die ondersoek duur voort.
# Krieket: Nieu-Seeland het korte mette gemaak van Sri Lanka se toporde om die reën-verkorte tweede eendagwedstryd in Hamilton met 113 lopies te wen en die reeks met 2-0 te beklink. Draaibouler van Sri Lanka, Maheesh Theekshana, het ʼn driekuns behaal, maar die tuisspan het 255 vir 9 van 37 boulbeurte aangeteken met Rachin Ravindra se 79 die hoogste telling. Die besoekers is in antwoord binne 31 beurte vir 142 uitgehaal met Will O’Rourke wat 3 paaltjies vir 31 lopies laat kantel het. Die derde wedstryd vind Sondag in Auckland plaas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-719-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-69-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Franse tydskrif wat outistiese joernaliste uitgee, is vandag vir die eerste keer by nuuskiosks te koop. Dit verhoog die projek, wat reeds opslae op televisie gemaak het, se profiel nog verder. Le Papotin het ‘n redaksiespan van ongeveer 40 joernaliste wat op die outismespektrum is en ‘n jaarlikse tydskrif uitgee wat hoëprofiel-onderhoude met glanspersone en kulturele inhoud bevat. Die uitgawes is gewoonlik op hul webwerf verkoop, maar sal nou na ongeveer drie-duisend winkels en nuuskiosks in Frankryk versprei word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….