Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp die Inligtingsreguleerder se aansoek om publikasie van matriekuitslae te verbied
# Sokker: Nederlandse legende Patrick Kluivert is as afrigter van Indonesië aangestel
# En, ‘n Vermiste stapper is gevind na 13 dae in Australiese berge
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n dringende aansoek deur die Inligtingsreguleerder om die publikasie van die 2024-matriekuitslae in koerante en digitale platforms te verbied, met koste van die hand gewys. Dit staan die Departement van Basiese Onderwys nou vry om soos beplan volgende week die matriekuitslae vir publikasie in die media bekend te maak. Regter Ronel Tolmay het beslis die dringendheid van die saak is self geskep en geen bewyse dat leerders se regte benadeel sal word, is aangebied nie:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het die regering gekritiseer omdat hulle nie poste aanbied aan die meer as een-duisend-800 junior dokters wat hul gemeenskapsdiens voltooi het nie. Die vereniging stuur ‘n landswye opname van stapel om die krisis te verstaan en doen ‘n beroep op die regering om werk te verskaf en gesondheidsorg-befondsing te verhoog. SAMA se voorsitter, Mvuyisi Mzukwa, het gedreig met regstappe indien die kwessie nie opgelos word nie:
SAMATU het intussen kommer uitgespreek oor die groeiende aantal werklose dokters wat hul gemeenskapsdiens voltooi het. Ten spyte van voortgesette gesprekke met die Nasionale Departement van Gesondheid, is daar geen spesifieke oplossing nie. SAMATU veroordeel die minister van Gesondheid se voorstel dat hierdie dokters privaat praktyke moet vind of in die buiteland gaan werk. SAMATU meen hierdie stelling ondermyn die openbare gesondheidsorgstelsel.
# Meer as 14-duisend reddingswerkers het in Tibet aangekom om die soektog na oorlewendes voort te sit, nadat minstens 126 mense gesterf het toe ‘n kragtige aardbewing ‘n afgeleë deel van die weste van China getref het. Chinese staatsmedia berig meer as 400 mense is gered sedert die aardbewing sowat 80 kilometer vanaf ‘n berg Everest- basiskamp getref het en duisende huise vernietig het. Aardbewings is algemeen in die streek, maar hierdie een was een van die dodelikste in onlangse geskiedenis. Die 7.1-aardbewing is ook in Nepal en dele van Indië gevoel.
# Sokker: ‘n Legende van Nederland en Barcelona, Patrick Kluivert, is as afrigter van Indonesië aangewys met die taak om die land na hul eerste Wêreldbeker-toernooi sedert onafhanklikheid te voer. Die 48-jarige voormalige doelskieter erf ‘n span met spelers wat meesal in Nederland gebore is en deur naturalisasie vir die land in Suidoos-Asië speel. Indonesië was nog net een keer tevore by die Wêreldbeker-sokkertoernooi, in 1938, toe hulle nog ʼn Hollandse kolonie was. Die land het in 1945 onafhanklik geword. Hulle is na ses wedstryde derde in hul kwalifiseringsgroep na een oorwinning en drie gelykopuitslae.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-481-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-653-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-40-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Stapper wat vir byna twee weke in Nieu-Suid-Wallis, Australië, vermis was, is lewend gevind nadat hy oorleef het op water van stroompies, bessies en twee muesli-stafies. Die mediese student, Hadi Nazari, het op 26 Desember vermis geraak nadat hy tydens ‘n staptog saam met sy vriende in die Kosciuszko Nasionale Park in die Snowy Mountains alleen foto’s wou neem. Honderde mense was deel van soekgeselskappe om die 23-jarige op te spoor. Hy was springlewendig, op en wakker, kon praat en het geen noemenswaardige beserings nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….