Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê progressiewe organisasies moet die beëindiging van Gemeenskapswerkprogram-kontrakte verwerp
# Motoriste in Limpopo gewaarsku teen gevaarlike bestuurstoestande in gure weer
# En, sokker: Frankryk se afrigter, Didier Deschamps, tree na 2026 se Wêreldbeker-toernooi uit
# Cosatu veroordeel die regering se besluit om 67-duisend werkers van die Gemeenskapswerkprogram vanaf einde Januarie af te lê, ten sterkste. Matthew Parks van Cosatu sê die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa se aankondiging moet deur alle progressiewe organisasies verwerp word met die minagting wat dit verdien. Hy sê die Parlement moet ingryp om dit stop te sit:
# Die ANC-jeugliga sê hy sluit vandag by miljoene Suid-Afrikaners aan om die 113de herdenking van die ANC te vier, die oudste bevrydingsbeweging in Afrika. Woordvoerder Zama Khanyase sê hierdie mylpaal herinner aan die party se blywende nalatenskap van veerkragtigheid en leierskap in die stryd vir vryheid, geregtigheid en gelykheid. Sy sê die beweging moet steeds die mense van Suid-Afrika met integriteit, nederigheid en toewyding dien:
# Motoriste in Limpopo word aangeraai om uiters versigtig te wees omdat swaar reën en sterk wind vandag en oor die naweek voorspel word. Die gure weer sal na verwagting gevaarlike bestuurstoestande tot gevolg hê, veral op belangrike roetes in die provinsie. Die woordvoerder van die provinsiale verkeersdepartement, Tidimalo Chuene sê motoriste sal te doen kry met swak sigbaarheid en gladde paaie op roetes soos die R524 van Thohoyandou na Makhado en die R71 van Tzaneen na Polokwane:
# Sokker: Die afrigter van Frankryk, Didier Deschamps, tree volgende jaar na die Wêreldbeker-toernooi uit. Deschamps het Frankryk in 2018 in Rusland tot Wêreldbeker-roem gevoer en in 2022 in Katar tot die eindstryd. As ‘n speler het hy Frankryk aangevoer toe hulle in 1998 die Wêreldbeker tuis verower het. Die 56-jarige is die enigste persoon wat leef wat die Wêreldbeker as speler en afrigter verower het. Die ander twee is Mario Zagallo van Brasilië en Franz Beckenbauer van Duitsland wat albei verlede jaar oorlede is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-993-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-46-sent per vat.
# Ten slotte: Viëtnam gaan inwoners betaal wat verkeersoortreders rapporteer. Die land is tans besig om bestuurders wat op sy berugte, chaotiese paaie verkeersreëls oortree, aan te keer. Owerhede het sedert die begin van die jaar boetes so skerp verhoog dat dit vir die gemiddelde bestuurder byna onbekostigbaar is. Dit sluit oortredings in soos om oor ʼn rooi verkeerslig te ry of op ʼn selfoon te praat. Volgens die nuwe reëls kan enigiemand wat ʼn gestaafde verkeersoortreding aanmeld, nou tot tien-persent van die boete, tot ʼn maksimum van drieduisend-700-rand ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….