Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begn met rugby: Die Haaie se loskopstut Ox Nché sê hulle is deeglik bewus van die fisiese uitdaging wat die Franse span Toulouse Saterdag sal inhou in hulle Kampioenebeker-groepswedstryd in Durban. Die sesmalige kampioene Toulouse het die verdediging van hulle titel indrukwekkend afgeskop deur met Ulster en Exeter af te reken. Intussen het die Haaie Exeter met 39-21 gelooi maar met 56-17 teen die Leicester Tigers verloor. Nché sê hulle verwag ‘n taai stryd, met die skrum waar dinge beslis sal word weens ‘n nuwe reëlverandering wat skrumskakels meer beskerming gee.
# Vervolgens, tennis: Jessica Pegula het net vyf potte afgestaan voor sy klaargespeel het met Maria Sakkari by die Adelaide Internasionale toernooi. Sy begin haar seisoen enkele dae voor die Australiese Ope. Die topgekeurde en Amerikaanse Ope-finalis, het ‘n loslootjie gehad in die eerste ronde. Pegula het die Griekse voormalige wêreld nommer drie met 6-4, 6-1 van die baan gevee. Haar Amerikaanse landgenoot en tweede gekeurde, Emma Navarro, wat agtste op die wêreldranglys is, het ‘n taai stryd agter die rug nadat dit twee ure geneem het om Ekaterina Alexandrova met 7-6 en 6-4 te klop.
# Ons maak n draai by krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, het nog ‘n dyspier-operasie ondergaan en sal minstens drie maande op die krukkelys wees. Die 33-jarige Stokes het verlede jaar in Desember sy linker-dyspier geskeur in Engeland se laaste toets in Nieu-Seeland. Hy het dieselfde dyspier verlede Augustus in The Hundred geskeur waarna hy vier agtereenvolgende toetswedstryde misgeloop het: drie tuis teen Sri Lanka en een in Pakistan. Die jongste operasie beteken Stokes sal nie volgende maand aan die IKR-kampioenskapstrofee deelneem nie.
# Nuus oor sokker: Newcastle het beheer geneem oor hulle Carabaobeker-halfeindstryd met ‘n oortuigende twee-nul, eerstebeen oorwinning oor Arsenal in die Emirates-stadion. Doele deur Alexander Isak en Anthony Gordon het gesorg vir die besoekers se eerste weg-oorwinning oor Arsenal sedert November 2010. Newcastle moet nou nie verloor nie, of net met een doel verloor, in die tweede been op St James’ Park op 5 Februarie vir ‘n plek in die eindstryd. Die bestuurder van Newcastle, Eddie Howe sê die stryd is op ‘n mespunt:
# Ons sluit af met motorsport: Kaapstad Grand Prix SA is besig om ‘n bod voor te berei om in 2027 ‘n Formule-Een-straatren aan te bied. Die voorgestelde baan van 5,7-kilometer in Groenpunt sal ʼn uitstalvenster wees vir die Kaapstad-stadion en die ikoniese bakens van die Moederstad. Kaapstad word opgeweeg teen die Kyalami-renbaan in Johannesburg wat sy fasiliteite gaan opgradeer om F-I-A Graad 1-akkreditasie te verkry. Die uitvoerende hoof, Igshaan Amlay, is optimisties oor die Kaapstad-bod en wys op aansienlike ekonomiese voordele, die bevordering van toerisme en plaaslike besteding. Formule Een het laas in 1993 ‘n wedren in Suid-Afrika by die Kyalami-baan aangebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….