Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 08 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Naspers en sy internasionale vennoot Prosus se aandeelprys het gister met nagenoeg 10-persent geval nadat dit aan die lig gekom het dié tegnologiemaatskappye se belegging, Tencent, is onder druk omdat dit op ‘n Amerikaanse swartlys gevoeg is.
# En Netwerk24-webblad:
Skryf dele van Noordwes het tot 180 millimeter reën ontvang. Daar is wydverspreide kragonderbrekings en oorstromings.
Dan word berig ActionSA en die minister van Landbou, John Steenhuisen, stamp koppe oor sy gebruik van bloulig-begeleidingsvoertuie.
En laastens is daar nuus oor die moord op die 87-jarige Elsie Mutsi van Bultfontein in die Vrystaat. Sy is vermoedelik vermoor vir haar Sassa-geld.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die hoof van die Valke, generaal Godfrey Lebeya sê hulle het alles in hul vermoë gedoen om die Phala Phala-kwessie te ondersoek. Die volledige dossier is aan die hoof van openbare vervolging, advokaat Shamilla Batohi oorhandig, maar daar was nog geen optrede nie.
# Sowetan:
Berig oor die chaotiese uitwerking van die swaar neerslae op gemeenskappe in die platteland. Sommige mense is afgesny en in minstens een geval het ‘n 26-jarige vrou verdrink en die ma pleit by die polisie om haar liggaam op te spoor.
# En The Citizen:
Skryf die Luglisensieraad vergader volgende week om oor FlySafair se toekoms te besluit nadat dit vroeër aan die lig gekom het dat die lugdiens buitelandse eienaarskapregulasies oortree het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die lyfwagte van adjunkpresident Paul Mashatile is weer in die moeilikheid nadat hulle na bewering ‘n man met ‘n kind in sy arms in Khayelitsha rondgestamp het. Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie gaan ondersoek instel.
Dan is daar nuus oor die skielike afsterwe van die 21-jarige Adrian Paulse van Vredenburg.
En laastens skryf die koerant oor ‘n bestuurderlose slimtaxi in Los Angeles wat in sirkels gery het met sy passasier.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig terwyl nog twee verdagtes in die hof verskyn vir die moord op konstabel Callan Andrews, sal godsdiens- en gemeenskapsleiers van Gelvandale ‘n gedenkdiens vir die polisiebeampte hou.
En skryf tweedens Walmer-inwoners kla dat ’n loodgieteronderneming te groot geword het om in die voorstad te bly. Hulle sê die uitbreiding van bedrywighede en groot voertuie wat die paaie versper, is ‘n oorlas
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die negatiewe uitwerking van die sluiting van ArcelorMittal se aanleg in Ladysmith.
En berig daar bestaan kommer oor die voortbestaan van die sokkerklub Royal AM aangesien hulle finansiële probleme ondervind.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Onderwys, Kuns en Kultuur sê skole mag nie daarop aandring dat ouers betaal vir bouwerk of sekuriteitsdienste nie.
Tweedens skryf die koerant die inwoners van Oshakati se informele nedersettings, Ehenye en Ekuku, soek permanente oplossings vir hul huise wat elke reënseisoen oorspoel word.
En laastens word berig die kabinet het opdrag gegee dat ‘n gesamentlike verklaring oor vergoeding vir die volksmoord op die Namas en Ovaherero’s voor Maart 2025 onderteken moet word.