Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder waarsku die ANC moet vertroue herbou in aanloop tot sy 113de bestaansjaarvieringe
# TLU SA sê reënval in graangebiede is van onskatbare waarde
# En, sokker: Tottenham verleng kaptein Son Heung-min se kontrak tot 2026
# Politieke ontleder, Levy Ndou, sê die ANC moet hom daarop instel om die vertroue wat hy tydens verlede jaar se algemene verkiesing in sleutelprovinsies verloor het, te herwin. Die party het vir die eerste keer sedert demokrasie sy meerderheid afgestaan en 40-persent van die stemme getrek. Ndou het aan SABC News gesê met die herdenking van die 113de bestaansjaar in Khayelitsha, moet die ANC weer in voeling kom met kiesers:
# Die landbou-unie, TLU SA, sê op hierdie stadium is die reën wat in die land se graangebiede val van onskatbare waarde. Landbou-ekonome glo baie stapelgewasse sal baat by die El Niño-weersverskynsel wat na verwagting vanjaar meer reën sal bring. TLU SA se woordvoerder, Bennie Van Zyl, sê die reën het veral in die oostelike Hoëveld-streke ‘n goeie mielie-oes tot gevolg gehad:
# ArcelorMittal Suid-Afrika se aandele het met 30-persent gedaal na die aankondiging dat hy sy lang-staal-onderneming gaan sluit, wat tot werkverliese in Newcastle en Vereeniging sal lei. Volgens News24 sê die onderneming die sluiting kon verhoed geword het indien die regering sy bekommernisse aangespreek het, insluitend kwessies oor die land se skrootmetaal-beleid. Die sluiting sal waardedalings van 2,7-miljard-rand tot gevolg hê, maar sal die onderneming toelaat om op sy plat-staal-afdeling te fokus. ArcelorMittal het die regering vooraf oor sy besluit verwittig maar het geen reaksie ontvang nie.
# Internasionale vlugte hervat vandag vir die eerste keer by Sirië se belangrikste lughawe in Damaskus, sedert Islamities-geleide rebelle president Bashar al-Assad verlede maand omvergewerp het. ’n Vlug van Syrian Airlines het onderweg na Sharjah, in die Verenigde Arabiese Emirate, opgestyg, die eerste internasionale kommersiële vlug vanaf die lughawe sedert 8 Desember. Internasionale hulpverleningsvlugte en buitelandse diplomatieke afvaardigings het reeds in Sirië geland, en binnelandse vlugte is ook hervat.
# Sokker: Tottenham het besluit om die kaptein, Son Heung-min se kontrak tot 2026 te verleng. Die 32-jarige Suid-Koreaan het in 2015 by die Premierliga-klub aangesluit nadat hy by Bayer Leverkusen was. Hy het al in 431 wedstryde gespeel en 169 doele aangeteken. Son, wat in Augustus 2023 as klubkaptein aangewys is, het die Premierliga se Golden Boot in die 2021/22-seisoen gedeel met Liverpool se voorspeler, Mohamed Salah nadat hy 23 doele aangeteken het. Hy is ook die kaptein van Suid-Korea en het reeds 131 wedstryde vir sy land gespeel en 51 doele aangeteken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-34-sent teen die euro en 29-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-455-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….