Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Breadline Africa het onlangs sy langsdurende veldtog, The Seaside Outing, se sukses gevier deur minderbevoorregte kinders oor die feestyd strand toe te neem. Die veldtog word deur gemeenskapskenkings moontlik gemaak en verskaf aan kinders strandklere, lekkernye en Kersvader-geskenkpakkies. Breadline Africa sê die dag wat aan almal, van kinders tot vrywilligers, groot vreugde verskaf het, is ‘n geskenk op sy eie.
# ‘n Ereprofessor aan die Universiteit van Kaapstad se Geneeskunde-departement, Robert J Wilkinson, is as Beampte van die Mees Uitstaande Orde van die Britse Ryk aangewys. Dié gesogte eer is in die Vereningde Koninkryk se Nuwejaars-erelys vir 2025 aangekondig. Die UK sê die eer beklemtoon die impak van Wilkinson se werk met tuberkulose as een van die grootste gesondheidsuitdagings wêreldwyd. Wilkinson sê sy kollegas moet die toekenning beskou as ‘n stempel van goedkeuring vir hul groot bydrae in die stryd teen oordraagbare siektes in Afrika.
# Mediese kundiges van China het ‘n gratis katarak-chirurgie-program by die Tirunesh Beijing-hospitaal in Addis Abeba van stapel gestuur. Die China-Ethiopia Brightness Journey, het ten doel om meer as 500 pasiënte te behandel, met 80 operasies wat tot dusver voltooi is. Die Chinese ambassadeur, Chen Hai het die projek se rol in die versterking van bilaterale bande tussen die twee lande beklemtoon. Ethiopië se minister van Gesondheid, Mekdes Daba, het intussen gesê hierdie projek hou uitgebreide voordele vir kwesbare gemeenskappe in:
# Die Suid-Afrikaanse musikante, Tyla, Kabza The Small, en Makhadzi, is benoem vir die Trace Awards and Summit 2025. Die seremonie wat beskou word as een van die toonaangewendste musiekgeleenthede op die Afrika-vasteland, vind volgende maand in Zanzibar plaas. Tyla se Jump is benoem as liedjie van die jaar, en Makhadzi ding mee in die kategorie vir beste danser. Kunstenaars uit meer as 30 lande in Afrika, Suid-Amerika, die Karibiese Eilande, die Indiese Oseaan en Europa neem in 24 kategorieë deel.
# En laastens: Mango Groove vier Sondagaand 40 jaar in die musiekbedryf met ʼn eenmalige konsert in Kaapstad as deel van Kirstenbosch se Summer Sunset-konserte. Die groep gelei deur Claire Johnston, is in 1984 gestig en spog met ses albums en talle enkelsnitte. Johnston sê dit gaan nie net oor die viering van Mango Groove nie, maar vereer Suid-Afrika se reis en al die mense wat die groep oor die dekades ondersteun en geïnspireer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….