Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padverkeersbestuurskorporasie bepleit versigtigheid op die paaie
# Noord-Korea toets ‘n nuwe hipersoniese missielstelsel
# En, rugby: Amerikaanse sosialemediasensasie en speler wil die profiel van die vrouespel verhoog
# Die Padverkeersbestuurskorporasie het sy oproepe aan motoriste herhaal om uiters versigtig te wees wanneer hulle in reënerige toestande bestuur. Dit volg nadat ‘n botsing tussen verskeie motors 18 lewens geëis het op die N3 tussen Van Reenen en die Tugela Plaza in KwaZulu-Natal. Die woordvoerder, Simon Zwane, sê lede van die Nasionale Verkeerspolisie en die polisie het deurnag gewerk om die toneel op te ruim en die betrokke padgebruikers by te staan:
# Die MK-party sê hy is verontrus oor die publikasie van die Transnet-netwerkverklaring, wat daarop gemik is om die spoornetwerk in Suid-Afrika vir derdeparty-operateurs oop te stel. Woordvoerder Lucky Montana sê die MK-party herbevestig sy teenkanting teen die privatiseringsprogram vir die spoorweë waarvoor die DA en ANC-koalisie hom beywer. Volgens hom is dit kommerwekkend dat hierdie besluit kom op ‘n tydstip wanneer spoorvragvolumes tot hul laagste vlakke in dekades gedaal het:
# Eskom gaan voort met planne om sy kliëntediens en faktureringstelsel op te gradeer, wat sedert 2018 ‘n weergawe sonder rugsteun gebruik. Met die opgradering sal kwesbaarhede met sekerheid, kwessies met integrasie en uitdagings met verslagdoening aangespreek word. Eskom wil die bestuur van data en lewering van rekenings verbeter, wat die betroubaarheid van die stelsel en werkverrigting in die geheel verbeter. Die kragvoorsiener sê die bywerking sal hom in staat stel om aan veranderende behoeftes in sy verspreidings-onderneming te voldoen en om sy bestuur van inkomste te verbeter.
# Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, sê ‘n nuwe hipersoniese missielstelsel is vandeesweek getoets en sal die land se mededingers in die Stille Oseaan afskrik. Die toets is uitgevoer twee weke voor die inhuldiging van Donald Trump en val saam met die besoek van die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, aan Suid-Korea. Volgens die staatsmedia word ‘n “nuwe verbinding van koolstofvesel” in die enjin van die missiel gebruik. Kenners waarsku Pjongjang kan dalk teikens wat verder is tref, met tegnologie waaroor slegs Amerika, Rusland en China tans beskik.
# Rugby: Die Amerikaanse sosialemediasensasie, Ilona Maher, sê sy is gek daaroor om ‘n rugby-superster te wees, maar wil graag die profiel van medespelers in die vrouespel verhoog. Die veelsydige Amerikaanse agterspeler, wat Olimpiese brons vir sewesrugby in 2024 in Parys gewen het, het meer as agt-miljoen volgelinge op Instagram en TikTok, wat haar die rugbyspeler met die meeste volgelinge maak. Die 28-jarige het ‘n kontrak van drie maande met die Engelse span, Bristol, gesluit en was ook ‘n naaswenner in die mees onlangse reeks van die Amerikaanse televisieprogram, Dancing With The Stars.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-455-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….