Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê iets is besig om te gebeur met die toetsspan. Suid-Afrika het Pakistan met tien paaltjies afgeransel om die tweede toets op Nuweland in Kaapstad te wen en die reeks met twee-nul te beklink. Dis die Proteas se sewende agtereenvolgende oorwinning. Suid-Afrika se sege verseker dat hulle in Junie in die Wêreld-toetskampioenskap se eindstryd teen Australië te staan kom nadat hulle in die tweejaar-siklus boaan die punteleer beland het. Bavuma sê hulle is ten spyte van die sukses nog nie ‘n goed geoliede masjien nie:
# Vervolgens, sokker: Nottingham Forest het hulle sesde agtereenvolgende oorwinning behaal toe hulle Wolves by Molineux met drie-nul verslaan het, en nou ewe veel punte het as Arsenal wat tweede is in die Premierliga. Doele deur Morgan Gibbs-White, Chris Wood en Taiwo Awoniyi het die oorwinning aan Nuno Espirito Santo se span besorg wat nou ses punte agter die voorlopers van Liverpool is. Dis die eerste keer in 58 jaar dat Forest ses agtereenvolgende topwedstryde in dieselfde seisoen wen. Espirito Santo sê dit was ʼn taai wedstryd:
# Nuus van die tennisbaan: Die verdedigende kampioen, Jelena Ostapenko, het ‘n stel nodig gehad om aan die gang te kom, maar was daarna op dreef en het Magdalena Frech met 4-6, 6-1, 6-1 verslaan by die Adelaide Internasionaal. Die 17de gekeurde Letlander, wat in 2017 die Roland Garros-grand slam gewen het, speel in die laaste 16 teen Madison Keys by die opwarmingstoernooi in aanloop tot die Australiese Ope. Die Amerikaner Keys het Beatriz Haddad Maia van Brasilië, wat vier plekke bo haar is, met 6-2, 6-1 afgeransel.
Wêreld nommer een, Jannik Sinner, sê intussen sy “ongelooflike” 2024 is geskiedenis terwyl hy hom voorberei vir die verdediging van sy Australiese Ope-titel met ʼn klipharde oorwinning in ʼn vertoonwedstryd op die hoofbaan by Melbourne. Die Italianer het ʼn droomjaar beleef nadat hy eers sy eerste Grand Slam-toernooititel op Melbourne Park ingepalm het en daarna die Amerikaanse Ope en die ATP-eindtoernooi gewen het. Die vertoonwedstryd was ʼn taai toets teen die Australiese wêreld nommer 25, Alexei Popyrin, en hy het uiteindelik met 6-4, 7-6 koning gekraai.
# Ons sluit af met rugby: Die Amerikaanse sosialemediasensasie, Ilona Maher, sê sy is gek daaroor om ‘n rugby-superster te wees, maar wil graag die profiel van medespelers in die vrouespel verhoog. Die veelsydige Amerikaanse agterspeler, wat Olimpiese brons vir sewesrugby in 2024 in Parys gewen het, het meer as agt-miljoen volgelinge op Instagram en TikTok, wat haar die rugbyspeler met die meeste volgelinge maak. Die 28-jarige het ‘n kontrak van drie maande met die Engelse span, Bristol, gesluit en was ook ‘n naaswenner in die mees onlangse reeks van die Amerikaanse televisieprogram, Dancing With The Stars.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….