Nuus 11:00
BULLETIN 7 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is baie bekommerd oor die dreigende werkverliese by ArcelorMittal
# Van Reenenspas is oopgestel na die dodelike ongeluk
# En, meer as 50 mense is dood in ‘n aardbewing in China se bergagtige Tibet-streek
# Cosatu sê hy is diep bekommerd ná ArcelorMittal se aankondiging dat hy sy bedrywighede in Newcastle, KwaZulu-Natal, en Vereeniging in Gauteng vandeesmaand wil sluit. Dit kan sowat drieduisend-500 regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede in gedrang bring. Die maatskappy sê die hoë logistieke en energiekostes te same met die Suid-Afrikaanse regering se onvoldoende beleidsingryping, veroorsaak dat bedrywighede nie volhoubaar is nie. Cosatu-woordvoerder Zanele Sabela sê die sluiting sal werksverliese veroorsaak en ‘n negatiewe ekonomiese uitwerking op Newcastle en Vereeniging hê:
# Die EFF sê skole begin volgende Woensdag, daarom moet die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette dadelik ingestel word. President Cyril Ramaphosa het die wet verlede maand in sy geheel bekragtig na ʼn tydperk van drie maande om oor twee omstrede klousules oor taal- en toelatingsbeleid te onderhandel. Volgens die EFF sal die klousules keer dat skoolbeheerliggame toegangs- en taalbeleid gebruik om rassistiese enklaves in skole te skep.
# Die N3 by Van Reenenspas in KwaZulu-Natal is heropen ná die reuse-ongeluk tussen verskeie voertuie gisteraand [Maandag]. Agtien mense, onder wie vyf kinders, is dood toe ‘n taxi, ‘n vragmotor en ‘n ligte voertuig in ‘n botsing betrokke was. Die bedryfshoof van die N3-tolkonsessie, Tanya Dhoogra, sê die opruimingswerk sal later vandag hervat word en kan verdere verkeersontwrigting op Van Reenenspas veroorsaak:
# Minstens 53 mense is dood en 62 beseer nadat ʼn aardbewing vanoggend ʼn afgeleë streek van Tibet in China getref het. Amerika se Geologiese Vereniging sê die aardbewing van 7,1 het talle naskokke gehad en trillings is tot in Nepal se hoofstad, Katmandoe, en dele van Indië gevoel. Volgens berigte is meer as ʼn duisend huise beskadig en krag- en wateronderbrekings kom voor. China se president Xi Jinping het ʼn volledige soek- en reddingspoging gevra om ongevalle te beperk en huisvesting te voorsien aan inwoners wat geraak word.
# Krieket: Die Protea-kaptein, Temba Bavuma, sê iets is besig om te gebeur. Suid-Afrika het Pakistan met tien paaltjies afgeransel om die tweede toets op Nuweland in Kaapstad te wen en die reeks met twee-nul te beklink. Dis die Proteas se sewende agtereenvolgende oorwinning. Suid-Afrika se sege verseker dat hulle in Junie in die Wêreld-toetskampioenskap se eindstryd teen Australië te staan kom nadat hulle in die tweejaar-siklus boaan die punteleer beland het. Bavuma sê hulle is ten spyte van die sukses nog nie ʼn goed geoliede masjien nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-968-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-641-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….