Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die staalreus ArcelorMittal SA gaan voort met die beëindiging van sy langstaal-bedryf, wat sowat drie-duisend-500 regstreekse en nie-regstreekse poste reg oor Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal in gevaar stel. Die stap is veral kommerwekkend vir die inwoners van die KwaZulu-Natalse dorp Newcastle.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig motoriste gaan die week steeds blootgestel word aan swaar neerslae en gevaarlike padtoestande en na verwagting sal die reën eers teen Donderdag afneem.
Dan skryf die blad duisende Johannesburgers sit sonder krag weens die gure weersomstandighede.
En laastens word berig die polisie het sy woede uitgespreek ná die moord op twee Vrystaatse polisiebeamptes. Die lede is in Namahadi in Qwaqwa doodgeskiet.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die finansiële hoof van die Departement van Openbare Werke is na bewering vasgetrek met 680-duisend-rand in sy motor. Die berig verwys skynbaar na ‘n arrestasie in 2023.
# Sowetan:
Berig oor die Tshwane-bestuurslede wat geskors was oor die Rooiwal-projektenders. Die koerant skryf diegene wat die omstrede sakeman Edwin Sodi se tenders bevorder het, keer terug werk toe.
# En The Citizen:
Skryf terwyl daar wêreldwyd kommer bestaan oor die Chinese metapneumovirus, wat dieselfde simptone as Covid toon, sê die Suid-Afrikaanse regering hy is gereed vir enige uitbreking.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die vermoedelike verdrinking van die 16-jarige Neo September van Elsiesrivier in die see by Langebaan. September word reeds vier dae vermis maar die soektog duur steeds voort.
En tweedens is daar nuus oor die eksvrou van die voormalige Pakistanse eerste minister, Imran Kahn. Gemima Goldsmith sê sy het op Leeukop gestruikel en haar been gebreek.
# En Cape Times:
Skryf oor die gru-ongeluk by Van Reenenspas gisteraand waarin 18 mense waaronder vyf kinders omgekom het. ‘n Vragmotor, ‘n motor en ‘n minibustaxi was in die ongeluk betrokke.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Brighton-strand in Gqeberha se besoedelingsvlakke is volgens ‘n onlangse seewatergehalte-verslag kommerwekkend hoog terwyl twee ander strande monitering vereis.
En tweedens skryf die koerant minstens 20 seemeeukuikens is met stokke doodgeslaan deur jong vakansiegangers wat naby die Gamtoosriviermond gekamp het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die polisietaakspan in KwaZulu-Natal is ontbind.
En berig oorstromings het verkeerschaos in die provinsie veroorsaak.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Hardapdam het die grootste voordeel getrek uit die swaar neerslae. Intussen is sowat een-duisend-200 mense in Windhoek dakloos gelaat ná oorstromings.
Dan skryf die koerant die polisie het die naweek besetters van die perseel van die Daure Daman Tradisionele Owerheid in Uis verwyder.
En laastens word berig ‘n openbare beleidsontleder glo die Chinese minister van Buitelandse Betrekkinge se besoek aan Namibië bied ’n gulde geleentheid vir die land.