Nuus 08:00
BULLETIN 7 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Professor glo die Inligtingsreguleerder het nie ’n sterk saak oor die publisering van matriekuitslae nie
# Naamsa sê die 150-persent beleggingstoegewing is ‘n positiewe stap vir die vervaardiging van elektriese voertuie
# En, die Amerikaanse Kongres bevestig Donald Trump se 2024-verkiesingsoorwinning
# Die Inligtingsreguleerder se saak teen die Departement van Basiese Onderwys is swak. Dit is die mening van professor Mbulungeni Madiba van die Universiteit Stellenbosch. Die Hooggeregshof in Pretoria hoor vandag die reguleerder se dringende aansoek aan om ‘n interdik te kry teen die publisering van die 2024-matriekuitslae. Die reguleerder het die departement met vyf-miljoen-rand beboet vir sy voorneme om die uitslae in die media bekend te maak. Madiba het aan die SABC gesê die reguleerder sal behoorlike getuienis moet voorlê:
# Die Sakeraad vir die Motorbedryf sê hy verwelkom ‘n nuwe beleggingstoegewing van 150-persent om die produksie van elektriese en waterstofvoertuie in Suid-Afrika ‘n hupstoot te gee. Uitvoerende hoof van Naamsa, Mikel Mabasa, het aan Engineering News gesê die toelae is tot 2036 van krag en moet help om vervaardigers, insluitend Chinese maatskappye, te behou en te lok om voertuie en komponente vir elektriese voertuie plaaslik te vervaardig. Hy beklemtoon meer ondersteuning is nodig en vra vir belastingverlagings op ingevoerde elektriese voertuie asook aansporings vir verbruikers.
# Die Stad Tshwane sê hy bestudeer die uitslag van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering-bedingingsraad oor die vyf werkers wat by die Rooiwal-watersuiweringsaanleg-tender betrek word. Die metro het opdrag gekry dat die amptenare, wat aangekla word na bewerings oor wangedrag met die tendertoekenning, op 20 Januarie moet terugkeer werk toe. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê die raad het ook beslis die werkers moet met twee maande se salaris vergoed word vir die onregverdige skorsing:
# Die Amerikaanse kongres het Maandag die verkose Republikeinse president, Donald Trump, se oorwinning in die 2024-presidentsverkiesing bevestig. Visepresident Kamala Harris, wat deur Trump verslaan is, het volgens die Amerikaanse Grondwet die geleentheid waargeneem. Dit was in teenstelling met die vorige geleentheid op 6 Januarie 2021 toe die Kongres die verkiesingsuitslag wou bevestig, en Trump-ondersteuners probeer het om president Joe Biden se bevestiging te keer. Harris sê die vreedsame oordrag van mag is een van die basiese beginsels van Amerikaanse demokrasie:
# Gholf: Die wêreld se nommer een, Scottie Scheffle, het aan volgende week se American Express-toernooi onttrek om sy handbesering kans te gee om te genees. Die Amerikaner het sy hand met gebreekte glas gesny terwyl hy die Kersete voorberei het, en moes geopereer word. Hy moes weens die besering onttrek aan die seisoen se eerste toernooi, Sentry, wat Hideki Matsuyama die naweek gewen het. Scheffler, wat verlede jaar nege titels insluitend die Meesters opgeraap het, sê hy hoop om sy 2025-seisoen op 30 Januarie by die Pebble Beach Pro-Am af te skop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-723-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….