Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-jeugliga versoek die regering om ‘n omvattende seksopvoedingsbeleid in skole in te stel
# Eldoradopark-polisiebeampte se moordsaak word uitgestel vir verdere ondersoek
# En, krieket: Rashid Khan beklink Afghanistan se toetsreeksoorwinning teen Zimbabwe
# Die ANC-jeugliga versoek die regering om ‘n omvattende seksopvoedingsbeleid in skole in te stel en toe te pas. Woordvoerder Zama Khanyase sê onlangse statistiek toon ongeveer 365 adolessente skenk elke dag geboorte, insluitend ongeveer tien meisies onder die ouderdom van 15. Sy sê hierdie sorgwekkende werklikheid vereis dringende aandag en gekoördineerde optrede van alle sektore van die samelewing. Volgens haar bly die liga onwrikbaar by sy verbintenis om die welstand en ontwikkeling van Suid-Afrika se jeug te verseker.
# Die Landdroshof in Protea in Gauteng het die saak teen ‘n polisiebeampte van Eldoradopark, wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie, Chesnay Keppler, vermoor het, vir verdere ondersoek tot 26 Februarie uitgestel. Keppler is die naweek begrawe en haar familie eis geregtigheid. Die woordvoerder van die Onafhanklike Ondersoekdirektoraat van die polisie, Lizzy Suping, sê Mandla Buthelezi, het ‘n selfdoodpoging oorleef en is in aanhouding sedert hy die hospitaal verlaat het:
# Die Padvragvereniging het die publikasie van die Transnet-netwerkverklaring oor die spoornetwerk in Suid-Afrika verwelkom. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, moedig alle ondernemings aan wat ‘n derdeparty-operateur kan word, om die verklaring te bestudeer en om met die Departement van Vervoer in gesprek te tree om spoorbedrywighede weer ‘n lewensvatbare en doeltreffende diens te maak. Hy sê daar sal baie geleenthede vir padvervoer wees:
# Japan se eerste minister, Shigeru Ishiba, het Amerika gevra om te verduidelik want ‘n besluit deur president Joe Biden om die oorname van Nippon Steel van US Steel te verhinder, kan toekomstige beleggings beïnvloed. Volgens Biden is daar ‘n strategiese behoefte om die binnelandse nywerheid te beskerm. ‘n Amerikaanse regeringspaneel kon nie saamstem oor of die verkryging nasionale veiligheid bedreig nie. Die besluit was toe in die hande van Biden. Ishiba sê Biden se besluit laat vrae ontstaan oor toekomstige Japanse beleggings in die wêreld se grootste ekonomie.
# Krieket: Ster-bybreekbouler, Rashid Khan, het sy sewende paaltjie van die beurt laat kantel en Afghanistan kon vroeg-vroeg ʼn oorwinning met 72 lopies teen Zimbabwe beklink om die reeks van twee toetse te wen. Zimbabwe was oornag op 205 vir agt met kaptein Craig Ervine onoorwonne op 53. Die gashere het nog 73 lopies benodig om die toets in Bulawayo te wen nadat die eerste toets onbeslis geëindig het. Hulle kon egter geen lopie byvoeg nie en Afghanistan kon hulle eerste toetsoorwinning behaal sedert hulle Zimbabwe vier jaar gelede in Abu Dhabi getroef het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-23-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….