Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Christelike Forum versoek gemeenskappe se hulp om tienerswangerskappe hok te slaan
# Die satiriese Franse koerant Charlie Hebdo gee ‘n spesiale uitgawe uit om 10 jaar sedert die Islamitiese aanval te gedenk
# En, krieket: Indië se afrigter sê Rohit Sharma en Virat Kohli het steeds ’n toekoms, as hulle dit wil hê
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum doen ‘n beroep op gemeenskappe en geloofsinstellings om daadwerklik stappe te doen om tienerswangerskappe hok te slaan. Die forum se president, Marothi Mashashane sê geloofsgebaseerde organisasies kan programme instel wat beroepsgerigte-opleiding en lewensvaardighede aan beide meisies en seuns verskaf. Hy sê om mentorskaps-geleenthede te skep met suksesvolle vroue en mans uit die gemeenskap wat die jeug lei, kan die aanmoediging en hoop verskaf wat hulle nodig het om gefokus te bly op hul opvoeding en toekomsdoelwitte:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n Spesiale Amptelike Begrafnis Kategorie 2 aangekondig vir die eerste demokratiese minister van Onderwys, Sibusiso Bengu. Die 90-jarige is op 30 Desember oorlede. Die begrafnis vind Vrydag by die Universiteit van Zululand plaas met seremoniële eerbewyse deur die polisie. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê vlae sal van môre tot die aand van die begrafnis landwyd halfstok hang. Die president het ook medelye met Bengu se familie betuig.
# Die DA kritiseer die besluit om vyf Tshwane-amptenare, betrokke by ‘n onreëlmatige tender vir die opgradering van die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg, toe te laat om terug te keer werk toe. ‘n Forensiese verslag het dissiplinêre stappe aanbeveel, maar die amptenare hul saak in die Arbeidshof gewen en moet later hierdie maand terugkeer werk toe. Cilliers Brink van die party het die stadsbestuurder, Johann Mettler aangemoedig om te appelleer teen die besluit en verwys na kommer oor tendermanipulasie en belangebotsings:
# Die satiriese Franse koerant, Charlie Hebdo, het ‘n spesiale uitgawe gedruk om die tien jaar te gedenk sedert sy kantore deur gewapende Islamitiese mans aangeval is. Twaalf mense, insluitend agt redaksielede, is in die slagting op 7 Januarie 2015 dood. Die twee broers van Algeriese afkoms wat in Parys gebore is, het glo wraak geneem nadat Charlie Hebdo karikature van die profeet Mohammed, Islam se heiligste figuur, gepubliseer het. Die spesiale uitgawe verskyn môre wanneer president Emmanuel Macron en Parys se burgemeester, Anne Hidalgo, openbare gedenkdienste sal lei.
# Krieket: Indië se afrigter, Gautam Gambhir, sê die ervare kolwers Rohit Sharma en Virat Kohli het steeds ʼn toekoms by die span as hulle dit wil hê, ten spyte van die teleurstellende Australiese toer. Indië het die reeks met 3-1 verloor nadat hulle Sondag die vyfde toets met ses paaltjies verloor het. Rohit het op sy eie versoek ʼn blaaskans geneem terwyl Kohli 17 en ses in sy twee kolfbeurte in Sydney bygedra het. Gambhir sê hulle beskik steeds oor honger en passie en kan hopelik voortgaan om Indiese krieket te bevorder.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-860-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-632-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….