Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Dosent aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Prosper Sotenga, het reeds twee meesters- en twee doktorsgrade behaal. Sotenga het in 2010 aan TUT begin studeer en vier grade in elektriese ingenieurswese aan die instelling verwerf, asook twee deur TUT-vennootprogramme. Hy is een van die universiteit se uitstaande dosente en was verlede jaar een van 24 akademici wat op die Toekennings vir Akademiese Uitnemendheid die doktorale toekenning vir die verbetering van kwalifikasies ontvang het. Sotenga sê sy praktiese opleiding het gemaak dat hy ‘n liefde vir die vakgebied ontwikkel het.
# Die Groter-Tygerberg-vennootskap maak Bellville se informele vullisverwyderaars se lewe makliker met trollies wat ontwerp is om vullisverwydering makliker, veiliger en doeltreffender te maak. Dit verander nie net die vullisverwyderaars se lewe nie, maar baan die weg vir ‘n skoner, groener Bellville. Die opgegradeerde trollies het ʼn vergrote bodeel wat die vullisverwyderaars in staat stel om elke keer meer herwinbare produkte te versamel. Dit beteken minder togte, groter doeltreffendheid en beter geleenthede om hul tyd en moeite ten beste te gebruik.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het bekendgemaak werklose jeugdiges kan nou aansoek doen om deel te wees van die YearBeyond-program. Met die program kry jongmense die geleentheid om waardevolle werkservaring op te doen terwyl hulle ook iets aan hul gemeenskappe teruggee. Mackenzie sê YearBeyond is ‘n jeugdiensvennootskap tussen die regering, die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap, skenkers en nie-regeringsorganisasies:
# Noah’s Ark-dieretuinplaas in Noord-Somerset in die Verenigde Koninkryk herwin ou Kersbome om diere se omgewing te verryk. Die dieretuin het die afgelope vyf jaar sowat 15-duisend bome ontvang en beplan om ʼn gemeenskapskern vir herwinning te word. ʼn Woordvoerder, Chris Wilkinson, het aan die BBC vertel hoe bril-bere die bome se dennegeur waardeer terwyl renosters graag tussen die spaanders snuffel:
# Demi Moore het triomfantlik teruggekeer na die Golden Globes en beste aktrise gewen vir ‘n rol wat haar loopbaan nuwe krag gee. Die 62-jarige sê sy was “op ‘n laagtepunt” in haar loopbaan voordat sy vir ‘n rol in The Substance gekies is. Sy sê die toekenning is ’n viering van “die gawe om iets te doen waarvoor sy lief is en om daaraan herinner te word dat sy wel ‘n plek het”. Moore se loopbaan strek oor 45 jaar, en dit was die eerste groot toekenning wat sy wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….