Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die jaar begin met slegte nuus vir staal-werkers
# Kanada se eerste minister Justin Trudeau gaan waarskynlik bedank
# En, krieket: Australië wil die Proteas verslaan om die Wêreld-toetskampioenskap te verdedig
# ArcelorMittal Suid-Afrika beplan om teen die einde van die maand sy lang-staal-vervaardiging by sy Newcastle- en Vereeniging-aanlegte, en hul spoor- en strukture-eenheid, te staak in ‘n stap wat moontlik drie-duisend-500 werksgeleenthede sal beïnvloed. Die uitvoerende hoof, Kobus Verster, sê verminderde kooks-vervaardiging sal voortgaan op Newcastle. Verster het teleurstelling uitgespreek oor mislukte pogings om bedryfshervormings te bewerkstellig. Hy sê hoë logistieke en energiekoste, swak regeringsingrypings en stygende laekoste-invoere uit China het veroorsaak dat die bedrywighede onvolhoubaar is. Die onderneming verwag ook ‘n groter jaarlikse verlies, met verwysing na marktoestande wat versleg.
# ‘n Ongeluk tussen ‘n bus en vragmotor naby Colenso, noord van die Tugelarivier in KwaZulu-Natal, veroorsaak aansienlike vertragings op die N3. Die bedryfshoof van die N3 Tolkonsessie, Thania Dhoogra, sê passasiers wat in die vroeë oggendure in die ongeluk beseer is, is na verskeie mediese fasiliteite gehaas. Sy versoek motoriste om versigtig te bestuur en om vertragings te verwag weens ‘n groot agterstand met die verkeer na die ongeluk:
# Die Kanadese premier Justin Trudeau sal waarskynlik binnekort sy bedanking aankondig. Bronne het aan Reuters en Kanada se Globe and Mail gesê die 53-jarige kan so vroeg as vandag aankondig dat hy sal bedank as leier van Kanada se regerende Liberale Party. Hoewel geen finale besluit geneem is nie, verwag bronne ‘n aankondiging voor ‘n noodvergadering van Liberale politici Woensdag. Trudeau is eerste minister sedert 2015. Hy is te midde van swak vertonings in meningspeilings onder druk van ‘n toenemende aantal van sy LP’s om te bedank.
# Krieket: Die Wêreld-toetskampioenskap se eindronde is eers oor vyf maande, maar dis reeds voorop in Australië se kaptein, Pat Cummins, se gedagtes. Hy sê hulle groot doelwit ná die sege teen Indië is om hul titel te verdedig. Australië kom in Junie op Lord’s teen Suid-Afrika te staan ná hulle sespaaltjie-oorwinning gister in die vyfde toets teen Indië in Sydney. Dis die Australiërs se eerste reeksoorwinning oor hul Indiese teenstanders in ʼn dekade. Dit bevestig ook hulle kragmeting teen die Proteas in die kampioenskap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-97-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-633-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-9-sent per vat.
# Ten slotte: Noah’s Ark-dieretuinplaas in Noord-Somerset in die Verenigde Koninkryk herwin ou Kersbome om diere se omgewing te verryk. Die dieretuin het die afgelope vyf jaar sowat 15-duisend bome ontvang en beplan om ʼn gemeenskapskern vir herwinning te word. ʼn Woordvoerder, Chris Wilkinson, het aan die BBC vertel hoe bril-bere die bome se dennegeur waardeer terwyl renosters graag tussen die spaanders snuffel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….