Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile is optimisties oor die opkoms vir die ANC se 113de bestaansjaarviering
# ‘n Amerikaanse Olimpiese medaljewenner is gearresteer tydens geskil met polisie
# En, Demi Moore beloon na 45 jaar met haar eerste groot toekenning ooit
# Adjunkpresident Paul Mashatile was gister in die Andrew Lasaba Metodistekerk in Khayelitsha as deel van die party se mobiliseringsprogram. Die ANC gaan sy 113de bestaansjaar in Khayelitsha in die Wes-Kaap vier en dit sal die party se eerste herdenkingsaamtrek in die streek wees sedert 2015. Mashatile was optimisties oor die opkoms en het ‘n beroep op groter gemeenskapsbetrokkenheid gedoen sodat die ANC vorentoe kan beweeg:
# Die N3-tolkonsessie sê nat weerstoestande kom oor die grootste deel van die N3 voor, maar die pad is nêrens oorstroom nie. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak 8-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reënstorms regoor KwaZulu-Natal tot Woensdag. ‘n Woordvoerder vir die tolkonsessie, Thania Dhoogra, sê vier mense is vanoggend vroeg beseer in ‘n botsing tussen ‘n bus en ‘n vragmotor naby Colenso in die provinsie:
# Die Amerikaanse Olimpiese naelloper, Fred Kerley is verlede week tydens ‘n onderonsie met polisiebeamptes in Miami, Florida, gearresteer en met ‘n skokgeweer geskok. Hy staan nou tereg op aanklagte van onder meer aanranding en wanordelike gedrag. Kerley het in 2024 ‘n bronsmedalje in die mans-100-meter by die Olimpiese Spele in Parys gewen. Polisie-beeldmateriaal van ‘n liggaamskamera wys hoe verskeie beamptes Kerley op die grond druk met een wat lyk of hy hom verskeie kere klap. Kerley se prokureur het aan CNN gesê die beeldmateriaal bewys Kerley word soos miljoene swart Amerikaners behandel, sonder menslikheid, deernis en respek.
# Tennis: Die wêreld se nommer nege, Daria Kasatkina, het tot die tweede ronde van die Adelaide International deurgedring, maar die Olimpiese silwermedaljewenner, Donna Vekic, van Kroasië het vasgeval met haar derde agtereenvolgende nederlaag dié seisoen. Kasatkina van Rusland het in die laaste twee opwarmingstoernooie vir die Australiese Ope tweede geëindig deur Olivia Gadecki van Australië te verslaan. Sy speel nou teen Emmerson Jones wat verlede jaar in die junior-afdeling in Melbourne en op Wimbledon tweede geëindig het. Vekic het laasjaar op Wimbledon in die halfeindronde gespeel, maar het in Adelaide teen Yulia Putintseva van Kazakstan verloor.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-516-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-627-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-97-sent per vat.
# Ten slotte: Demi Moore het triomfantlik teruggekeer na die Golden Globes en beste aktrise gewen vir ‘n rol wat haar loopbaan nuwe krag gee. Die 62-jarige sê sy was “op ‘n laagtepunt” in haar loopbaan voordat sy vir ‘n rol in The Substance gekies is. Sy sê die toekenning is ’n viering van “die gawe om iets te doen waarvoor sy lief is en om daaraan herinner te word dat sy wel ‘n plek het”. Moore se loopbaan strek oor 45 jaar, en dit was die eerste groot toekenning wat sy wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….