Nuus 09:00
BULLETIN 5 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SANTACO is gereed om Suid-Afrikaners veilig terug huis toe te bring
# Rampbestuurspanne is op hoë gereedheidsgrondslag met ontwrigtende reën wat in Gauteng verwag word
# En Tennis: Die verdedigende kampioen Grigor Dimitrov is beseer en onttrek aan die semifinaal in Brisbane
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad sê hy bly daartoe verbind om Suid-Afrikaners veilig terug huis toe te vervoer aan die einde van die vakansietyd. Die woordvoerder, Mmatshikhidi Phala, sê die taxiraad is diep bekommerd oor taxi-verwante ongelukke in die feestyd. Sy het bestuurders versoek om uiters versigtig te wees op die paaie en te verseker die veiligheid van passasiers word altyd voorop gestel:
# Die Stad Ekurhuleni sê sy rampbestuurspanne bly op ‘n hoë gereedheidsgrondslag ná die Suid-Afrikaanse Weerdiens hewige reënbuie vir die naweek en volgende week in Gauteng voorspel het. Die woordvoerder, William Ntladi, sê boonop word hoë verkeersvolumes op die paaie verwag namate vakansiegangers terugkeer na die provinsie:
# Die Stad Kaapstad sê daar was ‘n effense afname in noodlottige verdrinkings oor die spitsfeestyd, vergeleke met verlede jaar. Die aantal kinderverdrinkings is egter kommerwekkend. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê van die nege noodlottige verdrinkings sedert die begin van die seisoen in September 2024, het vier in Desember plaasgevind, vergeleke met vyf in Desember ‘n jaar gelede:
Tennis: Die verdedigende kampioen, Grigor Dimitrov, het Saterdag met ‘n oënskynlike liesbesering aan die halfeindronde van die Brisbane International onttrek, skaars ‘n week voor die Australiese Ope. Die ongekeurde Tsjeggiese speler Jiri Lehecka was 6-4, 4-4 voor toe die Bulgaar die baan saam met die fisioterapeut verlaat het vir ‘n mediese onderbreking. Hy het teruggekom maar net een punt gespeel voor hy tou opgegee het. Dimitrov is nommer 10 in die wêreld. Lehecka speel later vandag in die eindstryd teen die Amerikaner Reilly Opelka. Dit sal die 23-jarige Lehecka se vierde eindstryd op die ATP-toer wees.
# En laastens: ‘n Japannese vrou, wat deur die Guinness World Records as die wêreld se oudste persoon erken word, is op 116 oorlede. Tomiko Itooka is in Mei 1908 gebore, ses jaar voor die Eerste Wêreldoorlog en in dieselde jaar as die Ford Model T-motor se bekenstelling in Amerika. Sy het die amptelike Guinness World Records-sertifikaat verlede jaar op die Respek vir Bejaardes-dag ontvang. Dit is ‘n Japannese openbare vakansiedag wat jaarliks gevier word om die land se bejaarde inwoners te vereer. Byna ‘n derde van Japan se 124-miljoen mense is ouer as 65.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….