Nuus 09:00
BULLETIN 4 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit bepleit padveiligheid ná ‘n noue ontkoming op die N1
# Die ATM steun regsoptrede ná die beweerde rassistiese voorval in Food Lover’s Market
# En Motorsport: Hamilton sê hy kan nie méér opgewonde wees oor die Formule Een-jaar wat voorlê nie
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, het ‘n botsing net-net vermy toe ‘n roekelose bestuurder op die N1, tussen Drie Susters en Beaufort-Wes hom byna van die pad afgery het. Die persoon het teen 182 kilometer per uur gery en is daarna vir spoed in hegtenis geneem. Die LUR sê die voorval beklemtoon die voortdurende gevare van nalatige en roekelose bestuur, veral met reise tydens piek vakansietye:
# Die African Transformation Movement sê hulle steun regstappe teen Henry Coppens na sy beweerde rassemishandeling van Rendani Ravele by ‘n Food Lover’s Market-winkel in Fourways, Johannesburg. Nasionale woordvoerder, Zama Ntshona, sê ‘n saak is by die Douglasdale-polisiestasie aangemeld en beklemtoon Suid-Afrika se voortgesette stryd teen rassisme. Ntshona sê Coppens se gebruik van die term “bobbejaan” onderstreep die diepgewortelde ongelykhede in die samelewing:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, woon vandag die begrafnis van verkeersbeampte, Chesnay Keppler, in Eldoradopark by. Keppler is verlede week tragies deur haar kêrel, ‘n polisiebeampte, om die lewe gebring. Lesufi veroordeel die moord, betreur die verlies van ‘n onbaatsugtige dienaar van die gemeenskap en beloof geregtigheid. Hy doen ‘n beroep op owerhede om te verseker geregtigheid geskied.
# Die kantoor van Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê ‘n afvaardiging is goedgekeur om skietstilstand-onderhandelings in Katar te hervat. Amerikaanse, Kataarse en Egiptiese bemiddellaars sukkel al byna ‘n jaar lank om ‘n skietstilstand- en gyselaarvrylatingsooreenkoms tussen Israel en Hamas te bewerkstellig, maar die pogings het herhaaldelik gefaal met die twee groepe wat mekaar die skuld daarvoor gee. Volgens Netanyahu se kantoor sal lede van die Mossad-intelligensie-agentskap en die weermag die samesprekings bywoon. Daar was geen onmiddellike reaksie van Hamas nie.
# Motorsport: Lewis Hamilton sê dis onmoontlik om méér opgewonde te wees oor die jaar wat voorlê, met die sewe-malige wêreldkampioen wat voorberei vir sy eerste Formule Een-seisoen by Ferrari. Hamilton, wat Dinsdag 40 word, het by die Italiaanse reus aangesluit van Mercedes af, vir wie hy ses van sy jaerswêreldtitels gewen het. Maar die aantrekkingskrag van Ferrari, wat alom beskou word as die mees gevierde span in die geskiedenis van Grand Prix, was net te sterk, en Hamilton hoop die skuif sal ander jaers inspireer om nuwe geleenthede aan te gryp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….