Nuus 08:00
BULLETIN 4 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se Vrouenetwerk in die Oos-Kaap vra verskerpte pogings om statutêre verkragting hok te slaan
# Swaar reën word verwag oor die sentrale en oostelike dele van die land
# En Krieket: Die Proteas oorheers op die eerste dag van die tweede toets teen Pakistan
# Die DA se Vrouenetwerk in die Oos-Kaap is woedend omdat meisies so jonk as 10 van hul kinderjare beroof word en die trauma van geboorte skenk moet deurleef. Die netwerk doen ‘n beroep op die regering om bewusmakingsveldtogte vir meisies en ouers te bevorder. Die voorsitter, Nomvano Zibonda sê die regering moet die strawwe vir oortreders baie swaarder maak, geregtigheid moet tydig verseker word en beskermende maatreëls moet gewaarborg word om kindermishandeling te voorkom:
# Die Weerdiens waarsku oor wydverspreide buie en donderbuie oor die sentrale en oostelike streke van Suid-Afrika van môre tot diep volgende week. Dit sluit Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die suidelike dele van Mpumalanga en Gauteng in. Voorspeller Samkelisiwe Thwala het motoriste wat na die vakansie huiswaarts keer, gewaarsku dat laagwaterbrûe kan oorloop, wat sterk strome kan skep wat voertuie kan meesleur en die risiko van lewensverlies en skade aan eiendom inhou:
# Die ministers van Buitelandse Sake van Duitsland en Frankryk is in Damaskus om ‘n nuwe politieke begin tussen Europa en Sirië te bevorder. Dit is die eerste amptelike besoek aan die land deur top diplomate van Europese Unie-lidlande sedert die omverwerping van Bashar al-Assad. Annalena Baerbock van Duitsland vra alle mense, ongeag etniese of godsdienstige agtergrond, moet ‘n plek hê in Sirië se politieke proses. Die Franse minister Jean-Noël Barrot het gister Christelike godsdiensleiers in Damaskus ontmoet.
# Krieket: Ryan Rickelton het sy hoogste toetstelling behaal toe Suid-Afrika die eerste dag van die tweede toets teen Pakistan op Nuweland in Kaapstad op 316 vir vier afgesluit het. Rickelton en die kaptein, Temba Bavuma, het Nuweland se hoogste vierde paaltjie- vennootskap ooit tussen twee kolwers aangeteken. Die vennootskap van 235 lopies was die hoogrepunt van die Proteas se dag, nadat Bavuma die loot gewen het en besluit het om eerste te kolf. Bavuma het nege viere en twee sesse geslaan voor hy sy paaltjie op 106 verloor het. Rickelton, op 176 en David Bedingham op 4 sal vanoggend spel vir die Proteas hervat.
# En laastens: Kaapstad se Tweede Nuwe Jaar-parade sal vandag tussen 80-duisend en 100-duisend toeskouers lok. Meer as 20-duisend kunstenaars van 18 groepe klopse sal van Distrik Ses na die Bo-Kaap marsjeer, met helder kostuums en lewenslustige optredes. Stadsamptenare beklemtoon die kulturele betekenis van die geleentheid en die verbintenis tot gesinsvriendelike feesvieringe. Motoriste word gewaarsku teen paaie wat in die stadskern gesluit sal word, insluitend Adderley- en Darlingstraat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….