Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering moedig graad 12-leerders aan om positief te bly voor die matriekuitslae vrygestel word
# Die DA vra die regering vir ‘n beloning vir ‘n suksesvolle vervolging in die moord op ‘n polisiekonstabel van Nelson Mandelabaai-metro
# En, motorsport: Red Bull verseker Carlos Sainz sy opsies bly oop
# Die regering doen ‘n beroep op die matrieks van 2024 om positief te bly en hulself te vertrou terwyl hulle wag op hul uitslae. Die Nasionale Senior Sertifikaat-uitslae sal op die 13de van hierdie maand vrygestel word en al die provinsies sal na verwagting hul toppresteerders op 14 Januarie aankondig. Leerders word aangeraai om ‘n oomblik te neem en na te dink oor hul harde werk, toewyding en die veerkragtigheid wat hulle tot hier gebring het. Die regering sê hulle het reeds hul krag en vasberadenheid bewys, ongeag die uitslae.
# Die DA in die Oos-Kaap sê hy het die regering gevra om ‘n groot beloning beskikbaar te stel vir die suksesvolle indentifisering en skuldigbevinding van die skuldiges in die moord op ‘n polisiekonstabel van die Nelson Mandelabaai-metro. Yusuf Cassim van die DA sê Callan Andrews van die Gelvandale-polisiestasie is Dinsdag tragies doodgeskiet:
# UNISA-navorser Sipho Mantula beskou Uganda se bydraes tot die streeksvredesmag in die Oos-Afrika as ‘n faktor waarom hy genooi is om deel te word van die uitgebreide BRICS-vennootskap. Uganda is vanaf 1 Januarie amptelik deel van BRICS, die enigste Afrika-vennoot onder nege nuwe lede, te wete Belarus, Bolivia, Kuba, Indonesië, Maleisië, Thailand, Kazakstan en Oesbekistan. Mantula het aan die SABC gesê hierdie belyning is ‘n stap tot sterker ekonomiese bande met ontluikende markte:
# China sê hy sal “alle nodige maatreëls” instel na Amerika se aankondiging dat hy oorweeg om weens nasionale veiligheidsredes beperkings op kommersiële Chinese hommeltuie in te stel. Die Amerikaanse Departement van Handel het gister aangekondig hy oorweeg nuwe reëls ter wille van die risiko’s as gevolg van hommeltuie met tegnologie van buitelandse teenstanders soos China en Rusland. Dit kan lei tot regulasies of ‘n verbod op Chinese hommeltuie, wat die wêreldmark oorheers.
# Motorsport: Die spanbestuurder van Red Bull, Christian Horner, sê die feit dat hy Liam Lawson ten koste van Carloz Sainz vir 2025 se Formule Een-seisoen verkies het, beteken nié dat hy nooit weer ‘n kontrak met die gewese Ferrari-jaer kan sluit nie. Die 30-jarige Sainz sou hom glo by Red Bull se Max Verstappen aangesluit het, maar is uiteindelik oor na Williams. Sainz is ook deur Mercedes oorgesien as plaasvervanger vir Lewis Hamilton, wat by Ferrari aangesluit het. Sainz het verlede jaar vyfde op die besuurderspuntelys geëindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-717-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-656-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….