Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Polisie is besorg oor siviele eise van meer as R600-miljoen
# Motorsport: Suid-Afrikaners wen die Dakar-motorproloog en sal wegspringposisie kies
# En, ‘n Zimbabwese seun oorleef vyf dae in ‘n wildtuin tussen wilde diere
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, is besorg oor siviele eise van meer as 600-miljoen-rand teen die ministerie weens onregmatige arrestasie en aanhouding. Boshielo raai die polisie aan om daarop bedag te wees om die korrekte prosedures te volg wanneer hulle ‘n verdagte in hegtenis neem. Polisiewoordvoerder Malesela Ledwaba sê wetstoepassers se lewens mag egter nie bedreig word nie en beamptes moet hulle oordeel uitoefen ooreenkomstig die Grondwet:
# Die ANC veroordeel onwettige verbindings met Johannesburg se munisipale watervoorsiening, die onwettige verkoop van water en die peuter aan munisipale waterkleppe in Univille, ook bekend as Phumlamqhashi, in Lenasia-Suid. ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê hierdie gebied is oorspronklik geoormerk as ‘n HOP-behuisingsprojek met gemeenskaplike waterkrane, maar dit word onwettig beset en plaas onnodige druk op reeds beperkte hulpbronne en infrastruktuur:
# Ghana bied nou visumvrye toegang aan burgers van alle lande in Afrika, nadat president Nana Akufo-Addo dit verlede maand goedgekeur het. Hierdie geskiedkundige besluit is tydens die Afrika Welvaartsdialoë onderneem en wil bande op die vasteland versterk en toerisme, handel en reis ‘n hupstoot te gee. Ghana het vroeër visumvrye toegang aan 26 Afrika-lande gebied en visums by aankoms aan 25. Ghana sluit nou aan by Rwanda, Seychelle, Gambië en Benin as die vyfde Afrika-land met ‘n visumvrye beleid vir die hele vasteland. Ontleders glo die stap sal handel en toerisme ontsluit.
# Motorsport: Suid-Afrikaanse kampioene Henk Lategan en Brett Cummings se Toyota Gazoo Hilux was die heel vinnigste met die 2025 Dakar-motorproloog. Hulle kan kies waar hulle môre met die eerste skof wil begin. Hulle het die Sweedse Audi-oorlopers, Mattias Ekström en Emil Bergkvist se Ford Raptor en die vyfmalige Dakar-wenner, Nasser Al-Attiyah van Katar en die Fransman, Edouard Boulanger in hul Dacia Sandrider geklop. Suid-Afrikaners Brian Baragwanath en Leonard Cremer se Made in SA Century CR7 was vyfde. Giniel de Villiers en Duitser Dirk von Zitzewitz het 21ste geëindig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-500-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-657-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-42-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Agt-jarige seuntjie is lewend gevind nadat hy vyf dae oorleef het in ‘n wildtuin in die noorde van Zimbabwe wat bewoon word deur leeus en olifante. ‘n Parlementslid van Mashonaland-Wes, Mutsa Murombedzi het op X vertel hoe Tinotenda Pudu 23-kilometer van sy huis af gedwaal het en in die Matusadona-wildtuin beland het. Sy sê hy het sy kennis oor wildlewe en oorlewingsvaardighede gebruik om aan die lewe te bly. Lede van die plaaslike Nyaminyami-gemeenskap het ‘n soekgeselskap gevestig en tromme geslaan om hom terug huis toe te probeer lei. Veldwagters het hom uiteindelik gevind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….