Nuus 11:00
BULLETIN 3 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Onderwysaktivis vra ondersteuning vir graad 12’s terwyl hulle op hulle uitslae wag
# Twee broers verskyn in die hof vir die moord op ‘n uMhlanga-sakeman
# En, die Verenigde Koninkryk se grootste dinosourus-voetspore ooit word opgegrawe
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê met die 2024-matriekuitslae wat binnekort bekend gemaak word, behoort elke graad 12-leerder in hierdie deurslaggewende wagtydperk ondersteun te word. Hy sê ongeag die uitkoms, is dit reeds ‘n prestasie om matriek te voltooi en te bereik. Makaneta doen ‘n beroep op suksesvolle leerders om die oomblik aan te gryp en hul drome trots na te streef:
# Die Brand-en-reddingsdiens in Kaapstad het in Desember ‘n rekord opgestel toe hulle binne slegs 20 dae met die geboorte van vyf babas gehelp het. Die Mfuleni- en Houtbaai-brandweerstasie het twee geboortes elk hanteer, terwyl die vyfde ‘n tweeling in Gugulethu was. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê in daardie drie weke moes brandbestryders honderde voorvalle hanteer:
# Twee broers wat in hegtenis geneem is vir die moord op die Durbanse sakeman, Shailen Singh, wat Sondag in uMhlanga doodgeskiet is, verskyn vandag in die Landdroshof in die stad. Die woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, Robert Netshiunda, sê Singh, wat die eienaar was van ‘n logistiek-maatskappy, Shail Trans, is geskiet terwyl hy in sy voertuig in Meridianrylaan gesit het. Die verdagtes het na bewering gevlug in twee luukse motors, wat beide deur die polisie teruggevind is. Die motief vir die moord is nog onbekend. Singh is Woensdag begrawe.
# Krieket: ‘n Blitsige eerste T20-honderdtal vir Kusal Perera van Sri Lanka het aan Nieu-Seeland in Nelson die hoogste lopieteiken nog in internasionale T20-wedstryde gestel. Die tuisspan het baie naby gekom, maar kon net-net nie die wa deur die drif trek nie. Sri Lanka het die laaste wedstryd in die reeks van drie met sewe lopies beklink nadat Nieu-Seeland 219 vir ʼn oorwinning moes aanteken. Die gashere het reeds die reeks beklink met oorwinnings in die eerste twee wedstryde. Die witbaltoer word met ʼn eendagreeks van drie wedstryde voortgesit wat Sondag in Wellington begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-277-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-80-sent per vat.
# En ter afsluiting: Brittanje se grootste versameling dinosourus-voetspore ooit is in ‘n steengroef in Oxfordshire ontdek. Sowat 200 reuse voetspore, wat 166-miljoen jaar oud is, deurkruis die kalksteen-bodem. Vier van die rye spore is die van Souropodes, ‘n 18-meter-lange plantvretende dinosourus wat op vier bene geloop het. Daar word vermoed die ander spore is die van die karnivoor Megalosaurus. Die spesie het op twee bene geloop en was die grootste roofdier in die Jurassic-tydperk in Brittanje. Wetenskaplikes kyk nou na maniere om die terrein vir die toekoms te bewaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….