Nuus 08:00
BULLETIN 3 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse Onderwysdepartement sal voortgaan om seksvoorligting in skole te versterk
# Die FBI meen die New Orleans-aanvaller het alleen opgetree
# En, Motorsport: Giniel de Villiers is gereed vir sy laaste Dakar-tydren
# Die Oos-Kaapse LUR vir Gesondheid, Ntandokazi Capa sê haar departement sal hande vat met belanghebbendes en voortgaan om seksvoorligting in skole te versterk, in ‘n poging om te verseker die jeug kan ingeligte besluite neem. Die LUR se woordvoerder, Mkhululi Ndamase sê Capa is bekommerd oor ‘n 12-jarige meisie wat op Nuwejaarsdag ma geword het:
# Limpopo se LUR vir Onderwys, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, sê sy glo die 2024-matriekuitslae sal goed wees. Dit kom terwyl duisende leerders angstig op hul uitslae wag wat op 13 Januarie bekendgemaak word. Sy sê Limpopo mik na ‘n slaagsyfer van minstens 80-persent, teenoor 2023 se 79,54-persent. Lerule-Ramakhanya vra ouers en voogde om hul kinders in aanloop tot die uitslae te bemoedig en te ondersteun:
# Die Gautengse organisasie sonder winsbejag Jozi My Jozi is hard besig om onvoltooide projekte by Konstitusieheuwel af te handel voor vanjaar se G20-beraad. Dit sluit die besoekersentrum en ‘n park in. Die projekte vir die verbetering van die gebied se toerisme- en erfeniswaarde is in 2023 gestaak weens kwessies met kontrakteurs. Jozi My Jozi wil in vennootskap met die Stad Johannesburg die ontwikkelings vir stedelike herlewing gebruik en beoog dat die park teen Junie voltooi sal wees.
# Die FBI glo Shamsud-Din Jabbar het alleen opgetree in die dodelike New Orleans-aanval op Nuwejaarsdag. Veertien mense is dood en minstens 35 gewond nadat ‘n bakkie tussen ‘n skare mense ingejaag het. Jabbar is tydens die aanval in ‘n skietgeveg met die polisie dood. Hy het voor die aanval video’s aanlyn geplaas waarin hy sy verbintenis tot die Islamitiese Staat verklaar het. Die FBI sê daar is tans geen definitiewe verband met die ontploffing van ‘n Tesla Cybertruck voor die Trump Hotel in Las Vegas ure later nie.
# Motorsport: Suid-Afrika se Giniel de Villiers wil sy Dakar-tydrenloopbaan op ‘n hoogtepunt afsluit met sy deelname aan vanjaar se wedren waarin Toyota Gazoo Racing ‘n span van vier motors op die roete plaas. De Villiers het ‘n uitstekende Dakar-rekord en het tydens sy loopbaan die tydren 22 keer voltooi, waarvan hy 20 onder die eerste tien was. Dirk Zitzewitz is vanjaar weer sy medebestuurder nadat hy en De Villiers in 2009 eerste geëindig het. Die wedren begin vandag in Saoedi-Arabië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-861-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….