Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA versoek die nuwe adjunkhoof van die Lugmag om talle krisisse van die Departement van Verdediging aan te spreek
# ‘n Cybertruck ontplof by Trump se Las Vegas hotel
# En, die Olimpiese Spele: Die wêreld se oudste Olimpiese kampioen en Holocaust-oorlewende sterf op 103
# Die DA het Lancelot Mathebula gelukgewens met sy aanstelling as adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Lugmag. Die party versoek hom om werk te maak van die talle krisisse by die Departement van Verdediging, veral ten opsigte van finansiële wanbestuur, insluitend ongemagtigde uitgawes van 3,4-miljard-rand, en verkwistende besteding. DA-woordvoerder Nicholas Gotsell vra vir hernieude fokus op die operasionele vermoë van die Lugmag, veral ten opsigte van die beskikbaarheid van vliegtuie en gevegsgereedheid:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê massas mense is steeds ekonomies gemarginaliseer, sonder grond en ly onder onteiening in na-apartheid Suid-Afrika. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die vakbond se visie vir 2025 is uiters eenvoudig en ideologies duidelik. Sy sê hulle doen ‘n beroep op almal om te glo in die bou van ‘n samelewing om die mensdom te bevorder en verenig:
# Die polisie in Nevada stel ondersoek in nadat ‘n Tesla Cybertruck vol brandstofhouers en vuurwerkmortiere voor die Trump Hotel in Las Vegas ontplof het. Die bestuurder van die vragmotor is dood en sewe mense het ligte beserings opgedoen. President Joe Biden sê die Withuis volg die voorval en wetstoepassers ondersoek enige moontlike verband met die aanval op Nuwejaarsdag in New Orleans waarin 15 mense dood is. Die polisie ondersoek ook enige moontlike verband met die aangewese president Donald Trump, wat die hotel besit, of Elon Musk, wat Tesla besit.
# Olimpiese Spele: Agnes Keleti, die wêreld se oudste Olimpiese kampioen en Holocaust-oorlewende, is in die ouderdom van 103 oorlede. Sy is verlede week in Boedapest met longontsteking in die hospitaal opgeneem. Keleti se lewensverhaal is soos ‘n aangrypende Hollywood-rolprentdraaiboek, en haar vurige gees is nooit geblus in die aangesig van teëspoed nie. As Hongarye se suksesvolste gimnas het sy tien Olimpiese medaljes gewen, almal nadat sy reeds ouer as 30 was en teen veel jonger teenstanders. Dit sluit in vyf goue medaljes in Helsinki in 1952 en Melbourne in 1956.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-594-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-64-sent per vat.
# Ten slotte: Twee Suid-Afrikaners gaan die toekenning van Lid van die Orde van die Britse Ryk van Koning Charles ontvang. David Green, uitvoerende hoof van Kaapstad se V&A Waterkant, en Robert Wilkinson, ‘n leier in navorsing oor oordraagbare siektes, is op die lys van persone wat vir hul uitsonderlike bydraes erkenning ontvang. Green word vereer vir die verstewiging van toerisme- en kulturele bande tussen Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk, terwyl Wilkinson erken word vir sy pionierswerk in tuberkulose- en Vigs-navorsing. Hul prestasies toon Suid-Afrika se beduidende wêreldwye impak op dié gebiede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….