Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die regering vorder met die verwydering van struikelblokke vir vinniger groei en werkskepping
# CASAC is beswaard oor politici met ‘n ampsaanklag wat LP’s word
# En, krieket: Die Proteas-afrigter besef hulle benodig goeie kompetisie om voor te berei vir die eindstryd van Wêreldtoetskampioenskap
# President Cyril Ramaphosa sê met die vennootskap tussen die regering en sakelui sowel as die voortgesette samewerking met maatskaplike vennote, insluitend arbeid, vorder die regering daadwerklik om die struikelblokke wat vinniger groei en werkskepping belemmer, uit die weg te ruim. Hy sê die ekonomie verbeter stadig maar seker, en meer Suid-Afrikaners kry werk. Ramaphosa sê met inflasie wat gedaal het, kan huishoudings ook meer noodsaaklike goedere bekostig:
# Die Grensbestuursowerheid is na die feestyd slaggereed om terugkerende reisigers by grensposte te hanteer. Kommissaris Michael Masiapato het by Beitbrug in Limpopo gesê hierdie fase duur tot 15 Januarie wanneer suidwaartse verkeer sy piek bereik. Hy bevestig amptenare sal reisigers op pad na SAOG-lande soos Angola en Zimbabwe bystaan terwyl hulle immigrasiebeheer by grensposte toepas:
# Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet beplan om die Parlement te nader oor individue wat aangekla is en as lede van die Parlement dien. Uitvoerende direkteur, Lawson Naidoo, het op eNCA daarop gewys daar is geen beletsel op regters wat aangekla is, soos die parlementêre leier van die MK-party, John Hlophe, of die hoof van ‘n Artikel 9-instelling, soos Busisiwe Mkhwebane nie. Hy sê CASAC sal voorstelle by die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee indien om die kwessie uit te klaar:
# Die polisie in Suid-Korea het vanoggend ʼn klopjag uitgevoer op die Muan internasionale lughawe, die kantore van Jeju Air en ‘n lugvaartliggaam in die streek in ondersoeke na die dodelikste lugramp nog op Suid-Koreaanse grondgebied. Lugvaartowerhede, insluitend amptenare van Amerika, ondersoek die oorsaak van die ongeluk Sondag van Vlug 2216, waarin 179 van die 181 mense aan boord dood is. Die waarnemende president van Suid-Korea, Choi Sang-mok, het vandag gesê daar moet onverwyld stappe gedoen word indien die inspeksies enige probleme met die spesifieke vliegtuig-model uitwys.
# Krieket: Die Proteas se toetsafrigter, Shukri Conrad, onvervind ʼn dilemma terwyl hy sy span voorberei vir Junie se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap. Soos sake staan bly daar nog net een toets oor voor dan – die tweede toets teen Pakistan wat môre op Nuweland in Kaapstad begin. Daarna gaan die spelers hoofsaaklik by witbalkrieket betrokke wees, met die SA20-toernooi en daarna die Indiese Premierliga. Conrad sê hy sal goeie teenstanders moet kry om behoorlik vir die eindstryd voor te berei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-532-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….