Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verkeer neem toe op die N3-tolroete
# Die Weerdiens waarsku oor swaar reën, donderstorms en hittegolwe dié week
# En, rugby: Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi behoort fiks te wees vir die Haaie se Kampioenebekerwedstryd teen Toulouse
# Die N3 Tolkonsessie sê namate vakansiegangers begin met hul terugtog, neem die verkeer toe vanaf KwaZulu-Natal en Mpumalanga op die N3-tolroete in die rigting van Gauteng en dit sal na verwagting oor die naweek voortduur. Die woordvoerder, Thania Dhoogra sê hulle beveel mense aan om, indien moontlik, buite spitstye te reis aangesien hoë verkeersvolumes gewoonlik stadigbewegende verkeer en opeenhopings tot gevolg het. Dit kan bydra tot moeilike bestuurs-toestande, wat bykomende druk op bestuurders en nooddienste plaas:
Intussen het die Suid-Arikaanse Weerdiens ernstige weerwaarskuwings vir die hele land uitgereik te midde van vakansiegangers wat ná die feestyd terugkeer huis toe. Dit sluit in swaar reën oor Gauteng, Noordwes en Limpopo, met moontlike oorstromings. Hewige donderstorms word oor Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo voorspel, met moontlike skade aan infrastruktuur en eiendom. ‘n Hittegolf kan oor dele van die Oos-Kaap voorkom, waar temperature op plekke tot bo 37-grade-Celsius kan styg. Verspreide buie word die naweek oor die oostelike en sentrale gebiede, en die suidkus van die Wes-Kaap voorspel.
# Die Britse Departement vir Buitelandse Sake, die Statebond en Ontwikkeling het gemaan teen enige reis na Mosambiek tensy dit noodsaaklik is, en verwys na politieke onbestendigheid en toenemende geweld. Dit volg nadat Suid-Afrika sy inwoners ook gewaarsku het om nie na die buurland te reis nie, wat die toerismesektor benadeel. Die geweld het na die bestrede verkiesing losgebars. Reisigers word aangemoedig om groot byeenkomste te vermy en plaaslike inligting op te volg. Toerismesyfers het volgens berigte ingrypend gedaal, wat Mosambiek se ekonomie in gevaar stel.
# Rugby: Die Haaie het die goeie nuus ontvang dat Springbokke Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi fiks behoort te wees vir volgende naweek se Kampioenebeker-wedstryd teen Toulouse in Durban, maar nog ‘n Bok, André Esterhuizen, kan weens ‘n kniebesering vir tot ses weke buite aksie wees. Volgens hoofafrigter John Plumtree moet Mbonambi x-strale laat neem om te bepaal of sy hand behoorlik genees het terwyl Etzebeth nog een toets moet ondergaan vir harsingskudding. Dit is steeds onduidelik wanneer die Bokke Aphelele Fassi en Lukhanyo Am sal terugkeer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-281-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-637-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-82-sent per vat.
# Ten slotte: eThekwini-burgemeester, Cyril Xaba, sê 21 strande in die metro bly oop en is veilig vir swem. Tydens ‘n Nuwemaan-springgety word baaiers aangemoedig om net by aangewese strande te swem en aangeraai om altyd veiligheidsregulasies by water te gehoorsaam. Xaba sê om by strande te swem wat nie goedgekeur is nie, om snags te swem en onder die invloed van alkohol te swem, is streng verbode:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….