Nuus 11:00
BULLETIN 2 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM-leier vra eenheid en hervorming in 2025
# Elon Musk verander sy naam na Kekius Maximus op X
# En, krieket: ‘n Plek in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap is op die spel in Sydney
# Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, vra hernude verbintenis tot geregtigheid, gelykheid en geleenthede in 2025. Hy vra Suid-Afrikaners in ‘n verklaring om saam te werk om armoede, werkloosheid en ongelykheid te pak, en beklemtoon vordering begin met individuele optrede. Holomisa verwys na die belangrikheid van goedhartigheid, samewerking en vernuwing om positiewe verandering teweeg te bring. Hy hoop vir ‘n veiliger, voorspoediger nasie waar almal kan bydrae tot ‘n gedeelde toekoms.
# Openbare gesondheidsorg-geriewe in Gauteng het in die eerste 12 ure van Nuwejaarsdag 203 babas verwelkom. Die Gautengse LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko het die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal in Soweto besoek om die nuwe ouers geluk te wens. Sy het ook amptelik die nuut-uitgebreide neonatale intensiewesorg-eenheid geopen waar hoë gehalte sorg gelewer sal word aan pasgeborenes wat gespesialiseerde sorg benodig:
# Die wêreld se rykste man, Elon Musk, laat wonder almal nadat hy sy naam op X na Kekius Maximus verander het. Die tegnologiemagnaat en vertroueling van die verkose Amerikaanse president, Donald Trump het geen onmiddellike verduideliking gegee oor sy nuwe profielfoto met die karakter Pepe the Frog nie, Die meem word gereeld deur verregse groepe gebruik. Musk se besluit het konsternasie in die wêreld van kripto-geldeenhede veroorsaak, wat die waarde van ‘n meem-munt, die hoogte laat inskiet het. Meem-munte word geïnspireer deur internet-meems. Musk het al in die verlede kriptopryse beïnvloed deur sy kommentaar op sosiale media.
# Krieket: ‘n Plek in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap is op die spel in die vyfde en laaste toets tussen Australië en Indië wat môre op die SCG in Sydney begin. Albei spanne, asook Sri Lanka, kan nog kwalifiseer om in Junie op Lord’s in Londen teen Suid-Afrika te speel. Australië loop 2-1 voor in die reeks en benodig nog net een oorwinning om sy plek te verseker. Indien Indië wen is hulle steeds in die wedloop en ʼn onbesliste uitslag sal Sri Lanka se kanse lewend hou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-725-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-633-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-80-sent per vat.
# En, die Stad Kaapstad sê die straatparade, ook bekend as die Kaapse Klopse, sal Saterdag die Nuwejaar in die strate van die sakekern verwelkom. Ongeveer 20-duisend kunstenaars van 18 Klopse troepe sal skares met banjos, kitare, ghoema-tromme, trombone en tuba’s vermaak. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith sê die optog sal vroeg-middag in Distrik Ses begin en langs die geskiedkundige roete beweeg tot in die Bo-Kaap waar dit sal eindig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….