Nuus 08:00
BULLETIN 2 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Twaalf-jarige meisie skenk geboorte in die Oos-Kaap
# President Ramaphosa sê die regering se belangrikste fokus moet voorkoming van geslagsgeweld bly
# En, vyf sterf en noodwerkers word aangeval tydens vuurwerk-chaos op Nuwejaar in Duitsland
# Die Departement van Gesondheid sê hy is bekommerd oor tienermeisies wat steeds as nuwe ma’s getel word, nadat ‘n 12-jarige meisie in die Frontier-hospitaal in die Oos-Kaap geboorte geskenk het. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale sê meer as 650 babas is tussen middernag en vyf namiddag op die eerste dag van die jaar in die land se openbare gesondheidsgeriewe gebore:
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het die afgelope jaar aanhou fokus op die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord. Hy het in sy Nuwejaarsboodskap gesê die regering het die strafregstelsel se vermoëns versterk en die ondersteuning vir oorlewendes verbeter. Ramaphosa sê die belangrikste aspek is die beskerming van jong meisies en vroue in die land:
# Adjunkpresident Paul Mashatile het ‘n dringende brief aan Kabinetsministers geskryf om alle uitstaande antwoorde op parlementêre vrae in te dien. Hulle het tot volgende Maandag tyd om die uitstaande antwoorde vir 2024 af te handel. Vrae uit die Nasionale Vergadering verval op 9 Januarie, en dié van die Nasionale Raad van Provinsies die volgende dag. Mashatile het kabinetsministers gewaarsku om redes vir die onbeantwoorde vrae te verskaf, terwyl regstellende stappe teen oortreders geneem sal word . Opposisiepartye het voorheen gekla oor die uitvoerende gesag se gedraal om op skriftelike vrae te reageer.
# Vyf mense is dood en tientalle noodwerkers beseer in ‘n reeks vuurwerkvoorvalle wat die Nuwejaarsvierings in Duitsland ontsier het. Brandbestryders en ander nooddienspersoneellede is geteiken in minstens 13 aanvalle wat aangemeld is. In Berlyn het brandbestryders op Oujaarsaand op een-duisend-892 voorvalle gereageer en 330 mense in hegtenis geneem. ‘n Duitse omgewingsorganisasie het opnuut ‘n oproep gedoen vir ‘n nasionale verbod op die privaat verkope van vuurwerke op Oujaarsaand.
# Krieket: Die Proteas se toetsafrigter, Shukri Conrad, onvervind ‘n dilemma terwyl hy sy span voorberei vir Junie se eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap. Soos sake staan bly daar nog net een toets oor voor dan – die tweede toets teen Pakistan wat môre op Nuweland in Kaapstad begin. Daarna gaan die spelers hoofsaaklik by witbalkrieket betrokke wees, met die SA20-toernooi en daarna die Indiese Premierliga. Conrad sê hy sal goeie teenstanders moet kry om behoorlik vir die eindstryd voor te berei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-705-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-632-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….