Nuus 08:00
BULLETIN 31 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padverkeersbestuurskorporasie maan feesvierders om verkeersreëls te gehoorsaam op Oujaarsaand
# ‘n Hiëna byt ‘n meisie dood by die Timbavati Privaat Natuurreservaat
# En, krieket: Suid-Afrika se beheerliggaam loof die Proteas na ‘n dramatiese oorwinning oor Pakistan wat hulle laat deurdring na die Toetskampioene-eindstryd
# Die Padverkeersbestuurskorporasie maan motoriste om Oujaarsaand verantwoordelik te vier en verkeersreëls te gehoorsaam. Woordvoerder Simon Zwane sê wetstoepassing sal opgeskerp word om veiligheid te verseker, veral in die omgewing van onthaalgebiede. Hy raai bestuurders aan om versigtig te wees in nat toestande en roekelose gedrag te vermy:
# ‘n Drie-jarige meisie is twee dae na Kersfees by die Timbavati Privaat Natuurreservaat doodgebyt. Ntando Mhlaba en haar ma het haar pa besoek wat ‘n bewaarder is by een die privaat safari-oorde wat binne die groter reservaat bedryf word. Die woordvoerder van die polisie in Limpopo, Malesela Ledwaba, sê Ntando en ‘n maatjie het Vrydag buite die perseel gespeel toe die hiëna haar gegryp en weggesleep het. Die hoofbewaarder by Timbavati, Edwin Pierce, het aan News24 gesê die voorval beklemtoon die inherente risiko van lewe naby wilde diere.
# SANParke het besoekers aan die Tafelberg-nasionale park op Oujaarsdag gevra om verantwoordelik op te tree en bedrywighede te vermy wat brande kan veroorsaak. Die organisasie waarsku veral teen die afvuur van vuurwerke langs Vlaeberg- en Tafelbergweg. SANParke waarsku die fynbos-ekologie teen Tafelberg is hoogs vlambaar en vuurwerke kan onbeheerde veldbrande veroorsaak.
# Die Verenigde Nasies sê klimaatsverandering het in 2024 ‘n spoor van uiterste weer en rekordhitte gelaat en versoek die wêreld om af te wyk van die weg na ondergang. Die VN se weer- en klimaatsagentskap, die Wêreld Weerkunde-organisasie, sê hierdie jaar gaan die warmste jaar op rekord wees en sluit ‘n dekade van ongekende hitte af. Hulle sê die uitstraling van kweekhuisgasse is op rekordhoogtes met nog hitte in die vooruitsig vir die toekoms. Hulle sê die klimaat verander feitlik daagliks voor die oë van die wêreld.
# Krieket: Krieket Suid-Afrika het die Proteas gelukgewens met hulle oorwinning met twee paaltjies oor Pakistan in die eerste toets in Centurion. Dit beteken Suid-Afrika speel óf teen Australië, óf teen Indië in die eindstryd van die toernooi wat op 11 Junie volgende jaar op Lords in Engeland begin. Krieket Suid-Afrika het die rooibalafrigter Shukri Conrad gelukgewens en sê die prestasie toon die vasberadenheid en toewying van Temba Bavuma en sy span oor die afgelope 18 maande.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-502-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-605-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-49-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….