Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Myngroep beroep hom op die Konstitusionele Hof om mynwerkers in Stilfontein te bevry
# Biden beskryf oudpresident Jimmy Carter as ‘n buitengewone leier
# En meer as 70 mense sterf in ‘n motorongeluk in Ethiopië
# Die groepe Mining Affected Communities United in Action – MACUA – en Regslui vir Menseregte het ‘n dringende aansoek ingedien vir regstreekse toegang tot die Konstitusionele Hof om – soos hulle dit stel – die lewe van vasgekeerde mynwerkers in Stilfontein, Noordwes, te red. Magnificent Mndebele van MACUA sê die aansoek volg op die Hooggeregshof in Pretoria se verwerping van hul aansoek op 20 Desember om die staat te dwing om sy grondwetlike plig na te kom om die werkers te beskerm en hulle lewens te red:
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het partylede gewaarsku om nie deel te neem aan opvolgingsdebatte nie. Hy het beklemtoon sulke gesprekke ondermyn pogings om die party te hernu. Mbalula het onlangse gesprekke, in ‘n dokument getiteld: “ANC succession debate: a non-starter,” beskryf as afleidings van die ANC se verkiesingsverval, waarop gefokus moet word. Mbalula het beklemtoon hoe belangrik dit is om op die party se strategiese keuses te fokus, insluitend op die regering van nasionale eenheid, om die ANC se kiesersbasis te herbou.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, het oud-president Jimmy Carter gehuldig wat gister op die ouderdom van 100 jaar dood is. Biden het hom geloof as buitengewone leier, staatsman en filantroop. Hy het in ‘n boodskap aan die land gesê Carter se lewe kan nie aan woorde gemeet word nie, maar aan dade. Hy sê hoewel hy slegs een termyn gedien het, was sy invloed op die land beduidend:
# Die dodetal in ‘n motorongeluk in die suide van Ethiopië het tot minstens 71 gestyg. Die ongeluk was in die staat Sidama, sowat 300 kilometer suid van die hoofstad, Addis Abeba. Sidama se Polisiekommissie en Direktoraat vir Verkeersvoorkoming en -Beheer het in ‘n Facebook-plasing gesê 68 mans en drie vroue het tot dusver gesterf. Die voorval het plaasgevind toe die vragmotor waarop hulle was, van die pad geloop en in ‘n rivier beland het.
# Sokker: Liverpool het sy voorsprong op die Premierliga-punteleer tot agt punte vergroot toe hy West Ham 5-0 afgeransel het in die Londen-stadion. Mo Salah was weer eens indrukwekkend. Die Egiptenaar beleef ‘n droomseisoen ten spyte van onsekerheid oor ʼn nuwe kontrak. Hy het hierdie seisoen reeds 20 doele in alle kompetisies aangeteken en stuur Liverpool skynbaar na sy 20ste ligatitel in Arne Slot se eerste seisoen in beheer. Liverpool het 45 punte na 18 wedstryde punte en sy naaste teenstander, Nottingham Forest, 37.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-864-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-613-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….