Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê ‘n aantal onwettige mynwerkers het vrywillig uit verlate mynskagte in Stilfontein gekom
# Krieket: Australië klop Indië in Melbourne en loop 2-1 voor in die reeks van vyf toetse
# En, ‘n kleuter hardloop byna by krans af by ‘n vulkaan in Hawaii
# Die regering sê ’n aantal onwettige mynwerkers, bekend as zama zamas, het vrywillig bogronds gekom uit die verlate mynskagte in Stilfontein, Noordwes. ‘n Woordvoerder vir Natjoints, Tebello Mosikili, sê hierdie verwikkeling bewys dat hierdie mense oor die vermoë beskik om sonder hulp bogronds te kom. Volgens haar is die trae reaksie waarskynlik ‘n taktiek om inhegtenisneming te ontwyk:
# Die DA in die Wes-Kaap veroordeel ten sterkte ‘n beweerde rassistiese voorval wat onlangs op ‘n plaaslike vlug van FlySafair plaasgevind het. Woordvoerder Tertuis Simmers sê ‘n passasier het na bewering tydens ‘n hewige woordewisseling rassistiese opmerkings geslinger na ‘n lid van die bruin gemeenskap. Hy sê die DA gaan vandag by die polisiestasie in Bishop Lavis, Kaapstad, ‘n klagte van crimen injuria indien teen die vrou:
# ‘n Gewese sokkerspeler van Manchester City, Mikheil Kavelashvili, is ingehuldig as president van Georgië. Hy was tussen 1996 en ’97 ‘n doelskopper vir City. Die uitgaande pro-Westerse president, Salome Zourachbichvili, hou vol dat sy die regmatige staatshoof is en erken nie haar teenstander se aanstelling nie. Die uitslag van die verkiesing is gekenmerk deur bewerings van korrupsie en bedrog. Kavelashvili is in die verkiesing deur die regerende Droom-party gesteun en huldig sterk teen-Westerse sameswering-standpunte. Die presidentskap is grootliks ‘n seremoniële posisie.
# Krieket: Australië loop met 2-1 voor in die reeks van vyf toetse teen Indië nadat hulle die vierde toets in Melbourne met 184 lopies gewen het. Indië het sy laaste sewe paaltjies vir net 34 lopies verloor op die laaste middag op die MCG. Kaptein Pat Cummins en Scott Boland het elkeen drie paaltjies laat kantel en Yashasvi Jaiswal se 84 was die hoogste telling vir die besoekers. Indië moet nou die laaste toets wen wat Vrydag op die SCG in Sydney begin om die reeks te red en die Border-Gavaskar-trofee te behou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-633-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-614-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Hawaiise nasionale park het ‘n waarskuwing aan toeriste gerig nadat ‘n kleuter byna in ‘n aktiewe vulkaan geval het. Die seuntjie het van sy gesin afgedwaal en reguit na die Kilauea-vulkaan se krans van 120-meter hoog gehardloop. Sy ma het hom gegryp slegs sentimeter voordat hy hom sou doodval. Kilauea, op Hawaii se Groot-Eiland, is een van die wêreld se aktiefste vulkane wat gereeld uitbars. Die jongste uitbarsting het ‘n week gelede begin met lawa wat na die oppervlak borrel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….