Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Polisie steun ‘n slagoffer van statutêre verkragting in die hof in Seshego, Limpopo
# Die DA lê ‘n klagte na ‘n vrou se beweerde rassistiese opmerking op ‘n vlug van FlySafair
# En tennis: Novak Djokovic vra meer deursigtigheid oor opkikkerskorsings
# Die adjunk-minister van Polisie, Polly Boshielo, en Limpopo se regering verleen steun aan ‘n slagoffer van statutêre verkragting. Die 28-jarige beskuldigde wat vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn, is die pa van die baba van ‘n 13-jarige meisie wat op Kersdag in die plaaslike hospitaal geboorte geskenk het. ‘n Woordvoerder, Hlulani Mashaba, het bevestig dat twee LUR’e Boshielo na die hof vergesel.
# Die DA in die Wes-Kaap veroordeel ten sterkte ‘n beweerde rassistiese voorval wat onlangs op ‘n plaaslike vlug van FlySafair plaasgevind het. Woordvoerder Tertuis Simmers sê ‘n passasier het na bewering tydens ‘n hewige woordewisseling rassistiese opmerkings geslinger na ‘n lid van die bruin gemeenskap. Hy sê die DA gaan vandag by die polisiestasie in Bishop Lavis, Kaapstad, ‘n klagte van crimen injuria indien teen die vrou:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Suid-Kaap sê brandbestryders het daarin geslaag om ‘n veldbrand by Jongensfontein onder beheer te kry. Volgens woordvoerder Herman Pieters het spanne uitstekend gevorder om grenslyne te skep en daar is geen noemenswaardige brandpunte oor nie. Hy sê wind en hitte kan steeds rook opwek. In die Swartbergpas en naby De Kombuys en die Koos Raubenheimerdam is daar steeds brande met aktiewe lyne in ontoeganklike bergagtige gebiede:
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen Novak Djokovic wil meer deursigtigheid hê oor opkikkerskorsings, en beweer daar is dubbele standaarde. Die Serwiër stem saam met die Australiër Nick Kyrgios wat vroeër gesê het integriteit in die sport is aaklig. Twee spelers wat hoog op die ranglys is, Jannik Sinner van Italië en Iga Swiatek van Pole, is vanjaar baie ligte straf opgelê vir oortredings, terwyl Simona Halep van Roemenië vroeër vir nege maande geskors is. Djokovic sê die spelers is reg deur die proses in die duister gehou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-646-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-615-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-67-sent per vat.
# En ten slotte: Amerikaanse wetenskaplikes het uiteindelik die beendere van ‘n jong kind uitgeken wat meer as ‘n dekade gelede in Hawaii opgespoor is. Die oorskot behoort aan Mary Sue Fink, wat in April 1959 gebore is en dood is tussen die ouderdom van twee en ses. Inligting oor haar dood bly vaag. Mary se beendere is in Junie 2014 gevind en die inligting is ingevoer in Amerika se nasionale databasis vir vermiste persone. Die Othram-laboratorium in Texas het ‘n moontlike familielid opgespoor, wat gelei het tot Mary se uiteindelike uitkenning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….