Nuus 11:00
BULLETIN 30 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu versoek ‘n vreedsame oplossing vir die situasie in Mosambiek
# Die oudste oorlewende van Pearl Harbour sterf op 105
# En Tennis: Novak Djokovic vra meer deursigtigheid oor opkikker-skorsings
# Cosatu sê hy ondersteun die Suid-Afrikaanse regering se ingrypings om te bemiddel sowel as die raad wat hy aan die Mosambiekse regering en sy mense bied. Matthew Parks van Cosatu sê die federasie is vol vertroue hierdie saak sal opgelos word en doen ‘n beroep op alle partye wat gegrief is om ‘n vreedsame en kalm oplossing te vind. Hy sê die twee nasies kan nie die destabilisering weens verdere geweld, lewensverlies en ekonomiese ontwrigting bekostig nie:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Suid-Kaap sê brandbestryders het daarin geslaag om ‘n veldbrand by Jongensfontein onder beheer te kry. Volgens woordvoerder Herman Pieters het spanne uitstekend gevorder om grenslyne te skep en daar is geen noemenswaardige brandpunte oor nie. Hy sê wind en hitte kan steeds rook opwek. In die Swartbergpas en naby De Kombuys en die Koos Raubenheimerdam is daar steeds brande met aktiewe lyne in ontoeganklike bergagtige gebiede:
# ‘n Amerikaanse veteraan uit die Tweede Wêreldoorlog wat die oudste oorlewende van 1941 se aanval op Pearl Harbour was, is in die ouderdom van 105 dood. Warren “Red” Upton was in ‘n hospitaal in Los Gatos, Kalifornië, nadat hy longontsteking opgedoen het. ‘n Veteraanorganisasie vir oorlewendes van Pearl Harbour het aan CNN gesê Upton was ‘n nederige en saggeaarde man. Upton was ook die laaste oorlewende bemanningslid van die oorlogskip USS Utah, een van die sewe skepe wat tydens die aanval op 7 Desember gesink het.
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen Novak Djokovic wil meer deursigtigheid hê oor opkikkerskorsings, en beweer daar is dubbele standaarde. Die Serwiër stem saam met die Australiër Nick Kyrgios wat vroeër gesê het integriteit in die sport is aaklig. Twee spelers wat hoog op die ranglys is, Jannik Sinner van Italië en Iga Swiatek van Pole, is vanjaar baie ligte straf opgelê vir oortredings, terwyl Simona Halep van Roemenië vroeër vir nege maande geskors is. Djokovic sê die spelers is reg deur die proses in die duister gehou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-350-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-619-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-60-sent per vat.
# En Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, het kinderveiligheid op die metro se strande aangemoedig. Die stad verwag duisende mense gaan na strande stroom vir Nuwejaarsvieringe en ouers word aangeraai om die veiligheid van hul kinders voorop te stel. Van der Ross het onthul 169 kinders het tydens die feestyd vermis geraak. Sy het aan SABC News gesê die departement se Identikidz-program het gehelp om die kindrs met hul ouers te herenig:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….