Nuus 09:00
BULLETIN 30 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# MK-party bepleit konstruktiewe dialoog tussen die Mosambiekse regering en die opposisie
# Rugby: Leeus se slot word vir vyf wedstryde geskors na ‘n derde rooikaart
# En, Kusgemeenskappe word versoek om versigtig te wees met komende springgety
# Die MK-party vra die regering en die opposisie in Mosambiek vir konstruktiewe en inklusiewe dialoog ten einde griewe aan te spreek en te verseker verkiesingsprosesse voldoen aan die hoogste standaarde van regverdigheid. Woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê die MK staan in solidariteit met die mense van Mosambiek, maar eis meer deursigtigheid en demokrasie, en ‘n verbintenis tot vreedsame gesprekke om die huidige situasie op te los. Hy sê die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap moet ‘n proaktiewe rol speel in die bemiddeling van die krisis en alle belanghebbendes moet Mosambiek se infrastruktuur en hulpbronne beskerm.
Die SAKP veroordeel intussen die na-verkiesingsgeweld in Mosambiek, en beskuldig diegene wat onbestendigheid soek en dikwels openlik of in die geheim gesteun word deur imperialistiese magte. Die party sê die regerende Frelimo het as ‘n bevrydingsbeweging ‘n geskiedkundige oorwinning in die onlangse verkiesing behaal, en dis ook bevestig deur die land se hoogste hof, gegrond op bewyse van die standaarde van vrye en regverdige verkiesings. Die SAKP heronderskryf sy solidariteit met Frelimo.
# Die Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, Thembisile Patekile, veroordeel die verkragting van ‘n 41-jarige vrou deur ‘n polisiesersant by die Malmesbury-polisiestasie op Kersdag. ‘n Polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê die slagoffer het Vrydag ‘n verkragtingsaak geopen, wat gelei het tot die betrokke polisielid se inhegtenisneming. Potelwa sê die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het intussen die ondersoek oorgeneem:
# Rugby: Die slot Ruben Schoeman sal eers einde Februarie weer vir die Leeus kan speel nadat hy vir vyf wedstryde geskors is. Dit volg op sy rooikaart in verlede week se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Stormers in Kaapstad. Schoeman het halfpad deur die eerste helfte onwettig by ‘n skrum ingestorm, en sy span het uiteindelik 29-10 verloor. Hy het om verskoning gevra en erken hy was verkeerd, maar twee vorige rooikaarte het teen hom getel en hom ‘n bykomende skorsing van twee weke op die lyf geloop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-187-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-622-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-74-sent per vat.
# En ter afsluiting, die Nasionale Seereddingsinstituut vra kusgemeenskappe en besoekers om versigtig te wees tydens die springgety wat môre op sy sterkste sal wees en getytoestande hewig sal raak. Die woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, Andrew Ingram, sê dié verskynsel kom voor wanneer die son, maan en Aarde tydens nuwe maan in ‘n reguit lyn is, wat die aarde se gravitasiekrag op die Aarde se oseane verhoog:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….