Nuus 08:00
BULLETIN 30 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Natjoints sê die regering is standvastig in sy pogings om onwettige mynbedrywighede te stop
# ActionSA veroordeel die moord op ‘n misdaadvoorkomings-beampte in Eldoradopark
# En, die vliegongeluk op ‘n Suid-Koreaanse lughawe word beskou as die land se ergste binnelandse burgerlike lugvaartramp
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, oftewel Natjonts, sê die regering staan vas in sy pogings om onwettige mynbedrywighede aan te pak, omdat dit aansienlike gevare vir beide individue en die breër gemeenskap inhou. Tebello Mosikili van Natjoints sê hulle is besig met bedrywighede soos “Vala Umgodi” om verlate myne te rehabiliteer en verdere onwettige uitbuiting te voorkom. Sy sê die regering takel ook die onderliggende maatskaplik-ekonomiese kwessies wat bydra tot onwettige mynbou, soos werkloosheid en die gebrek aan ekonomiese geleenthede:
# ActionSA het die moord veroordeel op ‘n misdaadvoorkomings-beampte in Gauteng. Chesnay Keppler is in Eldoradopark vermoor, na bewering deur haar vriend, die polisiesersant Mandla Buthelezi. Dereleen James van ActionSA sê daar word beweer Buthelezi, wat in die verlede bekend was vir fisiese aanranding, het Keppler in ‘n staatsvoertuig gedwing terwyl hy onder die invloed was, haar aangerand en haar later deur die kombuisvenster van haar huis doodgeskiet:
# Gister se vliegongeluk op ‘n lughawe in Suid-Korea word beskryf as die land se ergste binnelandse burgerlugvaart-ramp. Honderd-79 mense is volgens berigt dood toe die vliegtuig van Jeju Air van die aanloopbaan geloop het met landing uit Bangkok in Thailand. Dit het teen ‘n muur vasgejaag en in vlamme uitgebars. Twee bemanningslede is lewend uit die wrak gehaal. Die meeste van die 175 passasiers en ses bemanningslede was burgers van Suid-Korea. Die tragedie word toegeskryf aan ‘n botsing met voëls of landingstoerusting wat nie gewerk het nie.
# Krieket: Kagiso Rabada het in een van sy beste vertonings ooit Sondag ‘n verstommende en spannende oorwinning van twee paaltjies aan Suid-Afrika besorg in hul eerste toets teen Pakistan in Centurion. Hy het ‘n onoorwonne 31 van slegs 26 balle gemoker tydens ‘n deurslaggewende vennootskap van 51 om die negende paaltjie met sy mede-snelbouler Marco Jansen. Die oorwinning het aan die Proteas ‘n plek in die Wêreldtoetskampioenskap in Junie op Lords verseker. Die tweede toets op Nuweland in Kaapstad begin op 3 Januarie.
#Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-46sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-592-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-622-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-75-sent per vat.
# En ter afsluiting, Wetenskaplikes het piepklein VR-brilletjies vir muise ontwerp sodat hulle diere se optrede in ‘n virtuele realiteitsomgewing beter kan studeer. Navorsers aan die Cornell Universiteit het die MouseGoggles ontwerp deur goedkoop elemente soos slimhorlosieskerms en klein lensies te gebruik. Hulle het daarna die kopstukke vir die muise opgesit en waargeneem hoe hulle op verskillende sensoriese inligting reageer. Volgens die universiteit kan hierdie toestel toon hoe die brein reageer op ruimtelike navigasie en geheue, wat wetenskaplikes sal help om siektes soos Alzheimer’s en die moontlike behandeling daarvan te verstaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….