Nuus 13:00
BULLETIN 29 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sowat 180 mense sterf in ‘n vliegongeluk op ‘n lughawe in Suid-Korea
# Putin vra Azerbeidjan om verskoning oor ‘n vliegongeluk maar aanvaar nie aanspreeklikheid nie
# En die Pan-Afrika-Parlement moedig alle politieke partye in Mosambiek aan om hulle te verbind tot ‘n deursigtige bemiddelings-proses
# ‘n Vliegtuig met 181 mense aan boord het in vlamme uitgebars nadat dit van ‘n aanloopbaan geloop het tydens landing op ‘n lughawe in Suid-Korea. Aanlyn beeldmateriaal wys hoe die vliegtuig in ‘n muur vasjaag en in vlamme uitbars. Brandbestryders sê twee mense is gered, maar al die ander is vermoedelik dood. Berigte lui die beheertoring het ‘n waarskuwing oor ‘n swerm voëls uitgereik en die vlieëniers het kort daarna ‘n ramp-oproep uitgestuur. Ondersoekers oorweeg ‘n botsing met voëls en weerstoestande as moontlike faktore in die tragedie.
Intussen het die Russiese president, Vladimir Putin, sy ampsgenoot van Azerbeidjan, Ilham Aliyev, om verskoning gevra nadat die land se kommersiële vliegtuig in die Russiese lugruim neergestort het, maar nie erken Rusland was aandadig nie. Agt-en-dertig mense is dood terwyl 29 oorleef het toe die vliegtuig op Kersdag neergestort het. Die meeste van die passasiers was van Azerbeidjan, en die ander van Rusland, Kazakstan en Kirgistan. Die BBC berig Putin het telefonies met Aliyev gepraat, maar nie regstreeks erken dat die vliegtuig getref is deur Russiese missiele nie.
# Die voorsitter van die Pan-Afrika-Parlement se suidelike koukus, Duduzile Zuma-Sambudla, moedig alle politieke partye, die burgerlike samelewing en belanghebbers in Mosambiek aan om ‘n inklusiewe en deursigtige proses te steun, wat die aspirasies van die mense as kern het. Die koukus se woordvoerder, Moshe Semenya, sê die proses moet die mense van Mosambiek toelaat om onpartydige en vertroude bemiddellaars te kies wat die land kan lei na versoening, vrede en bestendigheid na die onluste wat gevolg het op die bestrede verkiesing:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit in die Suid-Kaap sê brandbestryders veg steeds teen veldbrande in dele van die distrik. Woordvoerder Herman Pieters sê daar is tans aktiewe veldbrande by Buffelsdrif op die N9, by Jongensfontein en naby die Swartbergpas. Hy sê die brand in Swartbergpas woed op twee flanke, wes en oos, en blyk steeds aktief te wees nadat die wolke gelig het:
# En tennis: Die Noorweër Casper Ruud glo hy kan dié seisoen terugkeer na die top vyf , hoewel hy toegee dat Jannik Sinner van Italië en die Spanjaard Carlos Alcaraz ver bo die res uitstaan. Die 26-jarige, wat in September 2022 sy hoogste posisie van tweede bereik het, is tans die sesde beste speler in die wêreld na Sinner, die Duitser Alexander Zverev, Alcaraz, die Amerikaner Taylor Fritz en die Rus Daniil Medvedev. Ruud erken Sinner en Alcaraz, wat albei vanjaar twee Grand Slam-toernooie gewen het, sal moeilike kalante wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….