Nuus 08:00
BULLETIN 29 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vrou sal nie weer op FlySafair-vlugte toegelaat word nie na ‘n bakleiery met vlugpersoneel
# Skadelike wind en swaar reën word vandag oor die noordelike dele van Suid-Afrika verwag
# En krieket: Suid-Afrika het net 121 lopies nodig om die eerste toets teen Pakistan in te palm
# ‘n Vrouepassasier wat chaos veroorsaak het op ‘n vlug van Durban na Kaapstad sal nie toegelaat word om ooit weer met FlySafair te vlieg nie. Videos op sosiale media wys hoe die beweerde dronk vrou met vlugpersoneel baklei en aandring op nog ‘n drankie. Sy sê ook hulle het geen idee wie haar pa is nie. Ander passasiers het gehelp om haar in bedwang te kry en sy is aan die polisie oorhandig met landing in Kaapstad. Die redery sê haar naam word op hulle lys van verbode passassiers geplaas.
# Die Weerdiens het ‘n geel vlak vier-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms vandag oor die noordelike dele van die land. Skadelike wind en swaar neerslae kan verwag word oor Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, die Vrystaat en dele van KwaZulu-Natal. Die voorspeller sê die reën kan lei tot oorstromings op paaie en laagliggende gebiede. Mense word gewaarsku om nie oorstroomde paaie of laagwaterbrûe oor te steek nie.
# Die ANC-Vroueliga vra alle sektore van die gemeenskap, insluitend tussen-regeringsdepartemente, die progressiewe studentebeweging, onderwysersverenigings en die privaat sektor, om dringend en gesamentlik aandag te gee aan tiener-swangerskappe. Woordvoerder Boitumelo Moiloa sê Suid-Afrikaners moet saamwerk om ‘n omgewing te skep waar tienermeisies bemagtig word om keuses te maak wat hulle waardigheid, gesondheid en toekomsvooruitsigte verbeter:
# Krieket: Suid-Afrika het nog net 121 lopies nodig om die eerste toets teen Pakistan in Centurion te wen. Die besoekers is op die derde middag in hulle tweede beurt uitgeboul vir 237 nadat Marco Jansen ses paaltjies laat kantel het, met Saud Shakeel wat 84 aangeteken het. Dit het aan die Proteas ‘n wenteiken van 148 gestel, maar Pakistan het teruggeveg en voor uitskeityd vir Tony de Zorzi, Ryan Rickelton en Tristan Stubbs uitgehaal. Kaptein Temba Bavuma en Aiden Markram hervat Suid-Afrika se tweede beurt vandag op 27 vir drie.
# En ten slotte, die Stad Kaapstad se Identikidz-program het gesorg dat 25-duisend-770 kinders oor die afgelope twee openbare vakansiedae uitken-armbandjies kry, met 169 verlore kinders wat met hulle geliefdes herenig is. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die besigste strande oor Kersfees en Welwillendheidsdag was Strandfontein, die Strand en Monwabisi:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….