Nuus 08:00
BULLETIN 28 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra bestendigheid en sekerheid vir Suid-Afrikaners in Mosambiek
# AfriForum is gekant teen planne om die publikasie van matriekuitslae te verhoed
# En, krieket: ‘n Goeie toetsdebuut vir Bosch in sy eerste wedstryd teen Pakistan
# Die DA vra politieke bestendigheid en sekerheid vir Suid-Afrikaners in Mosambiek. Die party se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, is bekommerd oor toenemende geweld en menseregteskendings. Hy moedig die Mosambiekse regering aan om veiligheid te verseker en menseregte te beskerm. Aucamp sê die DA het dringende gesprekke aangevra met die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, om Suid-Afrikaanse burgers se veiligheid te verseker:
# AfriForum is bereid om die Inligtingsreguleerder se dringende hofaansoek teen te staan om die publikasie van 2024 se matriekuitslae te verhoed. Die hoof van kulturele sake, Alana Bailey, beklemtoon om die eksamennommers te publiseer sonder die name, gee balans tussen privaatheid en die openbare belang. Sy verwys na ‘n hofuitspraak in 2022 en sê AfriForum beskou die reguleerder se afdwinging as ongeldig. Sy sê die organisasie het gevra om aan te sluit by die saak teen die Departement van Basiese Onderwys:
# Slowakye het bevestig hy is gereed om gasheer te wees vir vredesamesprekings oor Oekraïne, met die Russiese president Vladimir Putin wat dit voorheen aanvaarbaar genoem het vir die land om ‘n platform vir dialoog te wees. Putin het vroeër aangekondig dat
Rusland nie daarteen gekant sou wees nie. Hy het Bratislava se neutrale posisie geprys. Slowakye sê samesprekings moet plaasvind met die deelname van alle partye, insluitend Rusland, anders as met ‘n vorige spitsberaad wat in Junie in Switserland gehou is.
# Krieket: Pakistan hervat vandag sy tweede beurt op 88 vir drie nadat die nuweling Corbin Bosch sy goeie spelpeil vir Suid-Afrika voortgesit het op die tweede dag van die eerste toets in Centurion. Die 30-jarige seun van die voormalige Suid-Afrikaanse sterspeler Tertius Bosch het ‘n onoorwonne 81 aangeteken en ‘n vennootskap van 41-lopies om die negende paaltjie met Kagiso Rabada gedeel. Dit het gevolg nadat hy in Pakistan se eerste beurt vier paaltjies platgetrek het. Aiden Markram het vroeër sy onlangse gesukkel afgeskud en ‘n briljante 89 bygedra.
# En, ‘n 20-jarige Amerikaanse pizza-afleweringsvrou is aangekla van poging tot moord nadat sy na bewering ‘n swanger vrou met ‘n skerp voorwerp gesteek het oor ‘n footjie gelykstaande aan 40-rand. Brianna Alvelo het die pizza afgelewer by ‘n hotel in Kissimmee, Florida, en was blykbaar ongelukkig oor die klein fooitjie. Sy en ‘n man het na bewering teruggekeer en die ander vrou 14 steekwonde toegedien. Die gewapende man is nog nie uitgeken nie. Alvelo word ook aangekla van betreding met ‘n vuurwapen, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….