Nuus 15:00
BULLETIN 27 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM moedig die regering aan om tydelike vlugtelingstasies langs die Mosambiekse grens op te rig
# Virgin Atlantic oorweeg die uitbreiding van vlugte tussen Kaapstad en Heathrow in 2027
# En, rugby: Kolisi is terug as die Haaie se kaptein teen die Stormers
# ATM moedig die oprigting aan van tydelike stasies langs die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek om Mosambiekers te help wat vlug voor die geweld. Woordvoerder Zama Ntshona sê die stasies moet toegerus wees om die vlugtelinge te registreer en te huisves in dié ontstuimige tyd, met die Leër, die polisie en Grensbeheer wat sekerheidpogings op die grens versterk:
# Die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake het die Distriksrampbestuurspan ontplooi met gure weer wat oorstromings in dele van die provinsie veroorsaak het. Die woordvoerder van die departement, Zimasa Mbewu, sê inwoners word aangeraai om veiligheidsmaatreëls te tref omdat die weerstoestande menselewens in gevaar stel:
# Die moontlikheid bestaan dat Virgin Atlantic in 2027 regdeur die jaar daaglikse vlugte sal instel tussen Kaapstad en Londen-Heathrow. Tans word vlugte slegs seisoenaal vir ses maande onderneem. Die uitvoerende hoof, Shai Weiss, sê ‘n groter vraag vanaf Kaapstad se groeiende sakesektor, insluitend semigrasie en innovering, kan vlugte heeljaar lewensvatbaar maak. Hy sê terwyl die Britse lugdiens 20-jaar van vlugte na en van Kaapstad vier, gaan hy ook voort om werkskepping, ekonomiese groei en landbou-uitvoere te ondersteun, insluitend die vervoer van vars produkte soos bloubessies na die Verenigde Koninkryk.
# China het sanksies ingestel teen sewe Amerikaanse ondernemings ná Washington verlede week ‘n militêre hulppakket aan Taiwan goedgekeur het. China sê Washington se optrede meng in met sy interne sake en ondermyn sy soewereiniteit en die integriteit van sy gebied. Beijing sal die Chinese bates van die Amerikaanse verdedigingsondernemings Insitu, Hudson Technologies, Saronic Technologies, Aerkomm en Oceaneering International, sowel as Raytheon se Kanadese en Australiese filiale bevries. China se aankondiging volg nadat sanksies vroeër hierdie maand teen 13 Amerikaanse ondernemings afgekondig is oor wapenverkope aan Taiwan.
# Rugby: Die Haaie-span wat môre in Kaapstad in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Stormers speel, is versterk met die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, se terugkeer as hul kaptein. Die haker Dylan Richardson en die slot Emile van Heerden is ook fiks nadat hulle die wedstryd teen die Bulle misgeloop het. Ethan Hooker skuif van senter na vleuel in die afwesigheid van Makazole Mapimpi, met die opwindende Jurenzo Julius wat op senter sal begin. Die Haaie het nog nooit vantevore die Stormers in dié kompetisie in Kaapstad geklop nie.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-464. Die prys van goud is twee-duisend-626-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-43-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….