Nuus 11:00
BULLETIN 27 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AZAPO vra die SAOG om in te gryp by die onrus in Mosambiek
# Die NUM is ernstig bekommerd oor afleggings in die mynbousektor
# En tennis: Novak Djokovic is op soek na nog Grand Slam-glorie
# Die Azanian People’s Organisation is bekommerd oor die onbestendige situasie in Mosambiek en doen ‘n beroep op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om in te gryp en te help om die geweld hok te slaan. Gewelddadige betogings het in Mosambiek opgevlam nadat sy hoogste hof Maandag uitspraak gelewer het oor die betwiste verkiesingsuitslae. Die woordvoerder, Jabu Rakwena, sê die SAOG het pas ‘n operasie teen die opstand in die Cabo Delgado-streek afgehandel:
# Die mynwerkersvakbond NUM is ernstig bekommerd oor afleggings by bykans alle myne in die sektor. Livhuwani Mammburu van NUM sê met die jaar wat amper op sy einde is, het die vakbond nuwe 189A-kennisgewings vanaf verskeie ondernemings ontvang. Hy sê werkers staan gebukkend onder ‘n donker feestyd en die toekoms lyk somber op pad na die Nuwe Jaar:
# Die Departement van Gesondheid het aangekondig meer as een-duisend-360 babas is op Kersdag veilig gebore in die land se gesondheidsgeriewe. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê dit is sowat 300 minder babas vergeleke met die een-duisend-708 verlede jaar, en sowat 50 minder as in 2022. Mohale sê die aantal tienerma’s het ook afgeneem van 145 in 2023 tot net onder 90:
# Die Amerikaanse adelaar is nou amptelik die nasionale voël van Amerika nadat president Joe Biden die eer toegeken het aan die roofvoël met die wit kop en geel bek. Die voël is jare lank reeds ‘n nasionale embleem van Amerika. Dit het verskyn op die Groot Seël van die VSA wat sedert 1782 gebruik word op amptelike dokumente. Die Wetsontwerp op die Adelaar was een van 50 stukke wetgewing wat Biden dié weekbekragtig het, wat insluit ‘n federale teen-bedwelmingswet om geweld en sterftes op universiteitskampusse te pak.
# Tennis: Novak Djokovic is vol vertroue hy kan nog Grand Slam-toernooie inpalm en wil die aanslag op die Australiese Ope begin. Die Serwiër begin hierdie week in Brisbane sy voorbereiding vir ‘n elfde titel en ‘n rekord 25ste Grand Slam-oorwinning. Dit is die eerste seisoen sedert die 37-jarige Djokovic begin speel het dat nie een van die sogenaamde Groot Drie aan die ander kant van die net sal wees nie. Djokovic sê hy voel fisies goed. Hy het nog een Grand Slam-titel nodig om Margaret Court se 24 te oortref.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-52-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-637-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….