Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog agt mense sterf in botsings op paaie in die Oos-Kaap
# Israel erken hy vroeër vanjaar ‘n leier van Hamas vermoor
# En, rugby: JD Schickerling sê hy is gereed om Eben Etzebeth Saterdag te pak
# Vier mense wat vermoedelik familielede is, is gisteraand dood in ‘n botsing tussen ‘n motor en ‘n vragmotor op die R61 tussen Komani en Tarkastad in die Oos-Kaap. Die woordvoerder van die provinsiale Departement van Vervoer, Unathi Binqose, sê in nog ‘n botsing is ‘n vrou en haar drie kinders dood toe hul motor teen ‘n ander voertuig gebots het die N2 naby Qumbu:
# Debt Rescue se jongste opname oor finansiële nood het aan die lig gebring talle Suid-Afrikaanse huishoudings sal moontlik nie die feestyd kan geniet nie. Baie verbruikers het hierdie jaar uitdagend gevind omdat hulle worstel met groot bekostigbaarheidsbeperkings. Die uitvoerende hoof van Debt Rescue, Neil Roets, het aan SABC News gesê baie mense kies om hul Kersbesteding te verminder om verdere finansiële probleme in die nuwe jaar te verhoed:
# Die Israelse minister van Verdediging, Israel Katz, het die eerste keer in die openbaar erken sy land het in Julie ‘n leier van Hamas, Ismail Haniyeh, in Iran vermoor. Iranse owerhede het Jerusalem die skuld gegee, maar niemand het tot nog toe aanspreeklikheid aanvaar nie. Katz het nou verantwoordelikheid erken en gewaarsku sy Weermag sal die Jemeense leierskap van die Houthi-rebelle onthoof. Die Houthi’s val al langer as ‘n jaar kommersiële skepe in die Rooi See aan in ‘n poging om ‘n vlootblokkade op Israel af te dwing.
# Rugby: Die Stormers-slot JD Schickerling sê hy kan nie wag om met die gedugte Springbok Eben Etzebeth kragte te meet wanneer sy span die Haaie Saterdag in Kaapstad in die Verenigde Rugby-kampioenskap pak nie. Dit is die twee spanne se tweede kragmeting vanjaar nadat die Haaie die tuisspan die vorige keer in Durban getroef het. Schickerling was verlede week die Speler van die Wedstryd in die Stormers se oorwinning oor die Leeus. Etzebeth herstel nog van simptome van harsingskudding, maar kan saam met sy gewese Stormers-spanmaat Siya Kolisi vir die Haaie uitdraf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-261-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-618-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-80-sent per vat.
# En ten slotte: Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, is benoem as opvolger van die Universiteit Stellenbosch se kanselier, oudregter Edward Cameron. Kganyago is die enigste benoeming wat ontvang is. Die universiteit se prosedures vereis ‘n geheime stemming indien net een benoeming ontvang is, terwyl ‘n meerderheidstem nodig is om die aanstelling te bevestig. Cameron se termyn eindig te midde van sy aanvanklike verwerping van ernstige bewerings van misbruik en wangedrag in die koshuis Wilgenhof. Hy ontruim die amp op 31 Desember.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….