Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê Minerale en Petroleum-hulpbronne bestee 1,92-miljoen-rand aan lugreise sedert September
# Boere is optimisties nadat Botswana sy verbod op groente-invoere ophef
# En krieket: Pakistan besluit op Dubai as die neutrale veld vir die Kampioenebekertoernooi
# ActionSA het bekendgemaak dat die Ministerie van Minerale en Petroleum-hulpbronne onder minister Gwede Mantashe in slegs vier maande ‘n verbysterende 1,92-miljoen-rand aan internasionale reise bestee het. Alan Beesley van Action SA sê belastingbetalersgeld is skynbaar uitgegee op luukse reise onder die dekmantel van amptelike pligte . Hy sê die patroon is simptomaties van ‘n algemene versuim deur die ANC om voorkeur te gee aan fiskale dissipline in regering:
# Die Drankfederasie van Suid-Afrika beklemtoon hoe belangrik die verantwoordelike gebruik van drank in die feestyd is. Daar is in hierdie tydperk gewoonlik ‘n toename in padongelukke wat veroorsaak word deur onder andere verhoogde verkeersvolumes, alkoholverbruik, bestuurder-moegheid en ongunstige weerstoestande. Die federasie se woordvoerder, Shamal Ramesar, het aan die SABC gesê drankhandelaars moet ook hulle rol as sleutelvennote aanvaar in die bevordering van verantwoordelike drinkgewoontes:
# Suid-Afrikaanse boere is versigtig optimisties oor Botswana se geleidelike opheffing van die verbod op groente-invoere. Die buurland se minister van Internasionale Betrekkinge, Phenyo Butale, het die besluit aangekondig nadat die verbod Suid-Afrika se groente-uitvoere verlede jaar halveer het tot 272-miljoen-rand. Bennie van Zyl van die landbou-organisasie TLU SA sê om vertroue te bou en aan infrastruktuurbehoeftes te voldoen is uiters belangrik vir suksesvolle handel. Die gefaseerde benadering begin met die onmiddellike invoer van uitgesoekte groente en sal in April verder uitbrei.
# Krieket: Indië sal al sy wedstryde in die Kampioenebekertoernooi in Dubai speel nadat die gasheer, Pakistan, besluit het op die stad in die Verenigde Arabiese Emirate as neutrale veld. Indië weier om in Pakistan te speel weens die dekades lange politieke vyandigheid tussen die buurlande. Pakistan sal as deel van ‘n ooreenkoms met die Internasionale Krieketraad dan tot 2027 alle wedstryde op neutrale velde speel in internasionale toernooie wat Indië aanbied. Suid-Afrika, Australië, Engeland, Nieu-Seeland, Afganistan en Bangladesj speel ook in die Kampioenebekertoernooi vanaf 19 Februarie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-116-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-624-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: ’n Studie waaroor Journal of Environmental Management berig, onderstreep die ernstige uitwerking van klimaatsverandering op Europese woude, veral naaldbome wat uiters kwesbaar is vir droogtes. Bosbestuursowerhede word aangeraai om eerder oor te skakel na gemengde of breëblaarwoude, wat volgens kenners meer bestand is teen klimaatsverandering. Die studie voorspel dat baie Europese boomspesies veel vroeër as wat verwag is aansienlik minder sal word – teen 2041 tot ’60 eerder as ’61 tot ’80. Dit beteken klimaatsverandering sal woude gouer beïnvloed as wat verwag is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….