Nuus 11:00
BULLETIN 23 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre komitee sê minister Malatsi se optrede oor die Wetsontwerp op die SABC is ongrondwetlik
# Sewe mense sterf en vyf word beseer in ‘n ongeluk op die N3-tolroete
# En ‘n verdagte is aangekeer ná die dood van ‘n vrou wat op ‘n moltrein in New York aan die brand gesteek is
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Khusela Diko, veroordeel minister Solly Malatsi se uitdaging van die speaker van die Nasionale Vergadering oor die terugtrekking van die Wetsontwerp op die SABC. Die minister het Thoko Didiza beskuldig van die vertraging van die terugtrekking en beweer dit oortree parlementêre reëls. Die wetsontwerp is gekritiseer weens ‘n gebrek aan aandag aan befondsingskwessies, en omdat dit ministeriële beheer verstewig. Diko sê die komitee het nooit Malatsi se terugtrekking van die wetsontwerp aanvaar nie, maar wel duidelikheid gevra oor die minister se gesag.
# Die Staatsinligtingstegnologie-agentskap word gekritiseer vir die uitkontraktering van verkrygingsdienste aan Nakede Management Services terwyl hy 72 personellede het wat vir dieselfde werk in diens geneem is. Dit volg nadat minister Malatsi die Staatsdienskommissie gevra het om bestuurkwessies en onreëlmatige gebruike by die agentskap te ondersoek. Leefstyl-oudits het moontlike belangebotsings onder bestuurders onthul, met nege van die 13 wat geoudit is wat rooiligte laat flikker het. Die agentskap ontken wanoptrede en sê daar word gehou by tenderprosedures en voortgesette ondersoeke.
# Sewe mense is dood toe ‘n minibus-taxi vanoggend omgeslaan het op die N3-tolpad tussen Villiers in die Vrystaat en Heidelberg in Gauteng. Vyf mense is beseer, waarvan twee ernstig. Die Padverkeersbestuurskorporasie se woordvoerder, Simon Zwane, sê dit is nog onduidelik wat tot die ongeluk aanleiding gegee het:
# Die polisie in New York het ‘n verdagte aangekeer wat beskuldig word van die moord op ‘n vroulike moltreinpassasier nadat sy gisteroggend aan die brand gesteek is. Polisiekommissaris Jessica Tisch het die voorval beskryf as een van die wreedste, siekste misdade wat ‘n mens teenoor ‘n ander kan pleeg. Sy sê die verdagte en die slagoffer was albei op die trein by Stillwell-laan in Brooklyn toe die voorval gebeur het:
# Krieket: Joe Root is weer in Engeland se eendaggroep ingesluit vir die toer na Indië en die Internasionale Krieketraad se Kampioenebekertoernooi in Pakistan. Ben Stokes is egter uitgelaat weens ‘n besering. Root het in die Wêreldbekertoernooi in November verlede jaar laas vir Engeland witbalkrieket gespeel. Mark Wood is in die groep ingesluit nadat hy van ‘n regter-elmboog-besering herstel het. Die toer na Indië in Januarie en Februarie sluit vyf T20’s en drie eendagwedstryde in, met die Kampioenebekertoernooi in Februarie en Maart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 23-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-12-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-632-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….