Nuus 09:00
BULLETIN 22 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gwarube onderneem om die Bela-wet spoedig in te stel
# NERSA hersien Eskom se veeljarige tariefbepalingsaansoek
# En, rugby: Die Stormers wen weer na vyf nederlae
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube het die versekering gegee die instelling van die BELA-wet sal tot die voordeel van alle leerders wees. Gwarube het die media toegespreek en die belangrikheid beklemtoon van duidelike riglyne, norme en standaarde. Gwarube beloof om vinnig op te tree terwyl sy ook erken tyd is nodig vir doeltreffende instelling. Sy sê die riglyne vir openbare skole en provinsiale departemente sal teen Januarie uitgestuur word:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika hersien Eskom se omstrede Sesde Veeljarige Tariefvasstellingsinkomste-aansoek. Die woordvoerder, Charles Hlebela sê ‘n finale besluit word vroeg volgende jaar verwag, na uitvoerige openbare verhore en bykomende verduidelikings. Hy beklemtoon Nersa se verbintenis tot die versekering van ‘n gebalanseerde en ingeligte uitkoms:
# Die inkomende Amerikaanse president, Donald Trump het uitgevaar teen wat hy onregverdige tariewe noem vir Amerikaanse skepe wat die Panama-kanaal gebruik. Hy dreig om te eis dat Washington weer beheer oor die waterweg neem. Hy het ook geskimp oor China se toenemende invloed rondom die kanaal. Amerikaanse besighede maak staat op die kanaal om goedere tussen die Atlantiese en Stille Oseane te vervoer. Die kanaal, wat in 1914 deur Amerika voltooi is, is volgens ‘n ooreenkoms van 1977 teruggegee aan die land in Sentraal Amerika. Panama het in 1999 volle beheer oorgeneem.
# Rugby: Die Stormers het uiteindelik na vyf agtereenvolgende loesings ‘n tuisoorwinning van 29-10 oor die Leeus in die Verenigde Rugbykampioenskap behaal. Die gashere het in die eerste helfte drie onverdoelde drieë gedruk en was rustyd 15-0 voor. Die Stormers het gebiedsvoordeel en besit oorheers, maar kon steeds nie beheer oor die wedstryd neem nie omdat hulle nie kon afrond nie. ‘n Rooikaart vir die Leeus se slot Ruben Schoeman in die 21ste minuut het ook die besoekers se lot verseël. Die Stormers speel Saterdag tuis teen die Haaie.
# En, die verkose Amerikaanse president, Donald Trump het aangekondig hy het die televisie-hoof Mark Burnett, wat die magnaat se realiteitsprogram “The Apprentice” vervaardig het, aangestel as sy spesiale gesant in die Verenigde Koninkryk. Die Emmy-bekroonde Burnett, wat in Londen gebore is, is die skepper van “Survivor”. Sy ander trefferprogramme sluit in “Shark Tank” en “The Voice.” Hy het die meeste sukses behaal met “The Apprentice”. Die program is wyd erken as die omkeerder van Trump se lot en het hom ‘n huishoudelike naam in Amerika gemaak voor hy in 2015 sy presidensiële ambisies bekendgemaak het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….