Nuus 08:00
BULLETIN 22 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oos-Kaapse botsing eis elf lewens
# Die ANC veroordeel die jongste gevalle van geslagsgeweld in KwaZulu-Natal
# En, die laaste gedrukte uitgawes van Rapport en City Press verskyn vandag
# Elf mense is dood, en nog drie is beseer, in ‘n botsing reg van voor naby Dutywa in die Oos-Kaap. Die ongeluk, waarby ‘n minibus-taxi en ‘n bakkie betrokke was, is bevestig deur die provinsie se Departement van Vervoer. Die oorsaak word nog ondersoek. Die owerhede pleit by padgebruikers om in die vakansietyd versigtig te wees. Die nooddienste is op die toneel van die tragedie.
# Die ANC veroordeel geslagsgeweld skerp na twee afsonderlike moord-selfdoodgevalle in KwaZulu-Natal. Sbusiso Lawrence het sy meisie met ‘n skerp voorwerp vermoor en haar ligaam in ‘n pad agtergelaat voor sy selfdood. Daarby het ‘n 24-jarige man Vrydag sy meisie en hulle drie-jarige kind vermoor voor hy homself opgehang het. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê hierdie tragedies onderstreep die voortdurende krisis van geweld teen vroue:
# Die burgerregteorganisasie AfriForum sê artikels 4 en 5 van die BELA-wet kan nie onmiddellik ingestel word nie, omdat die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube eers die norme en standaarde moet vasstel. Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel sê dié vertraging stem ooreen met ooreenkomste by Nedlac, wat verseker Afrikaanse skole behou hulle taalbeleid gegrond op plaaslike behoeftes. Hy beklemtoon AfriForum en Solidariteit se missie om voortydige afdwinging van die wet, in die hof uit te daag:
# Pous Franciskus het die bomaanval op kinders in Gaza as “wreedheid” veroordeel, ‘n dag nadat die gebied se reddingsagentskap gesê het ‘n lugaanval het die dood veroorsaak van sewe kinders uit een familie. Die agentskap berig ‘n Israelse lugaanval het Vrydag die dood veroorsaak van tien lede van ‘n familie in die noordelike deel van die gebied, onder wie sewe kinders. Die geweld in die Gazastrook duur voort meer as 14 maande na die begin van die oorlog tussen Israel en Hamas, selfs terwyl internasionale bemiddellaars werk aan die onderhandeling van ‘n skietstilstand.
# Boks: Oleksandr Usyk van Oekraïne het die Brit Tyson Fury uitoorlê in ‘n eenparige puntebeslissing om sy verenigde swaargewigwêreldtitels te behou in hulle herontmoeting in Saoedi-Arabië. Nadat hy Fury in Mei ‘n eerste loopbaannederlaag in ‘n verdeelde beslissing toegedien het, het Usyk se wil om te wen weer geseëvier en hy bly die WBA Super-, WBC- en WBO-swaargewigkampioen. Die 36-jarige Fury het in die eerste helfte van die geveg beïndruk, maar Usyk se volume skoner houe het hom die oorhand gegee. Al drie beoordelaars se telling was 116-112 vir die 37-jarige kampioen.
# En ten slotte: Dit is vandag die einde van ‘n era vir twee legendariese handelsmerke in die nuusbedryf. Beide City Press en Rapport se laaste gedrukte uitgawes verskyn vandag en sal dan volle digitale produkte word. Dit volg op Media24 se besluit om die gedrukte uitgawes van die Sondagkoerante, sowel as Beeld en Daily Sun, te beëindig. Die maatskappy het vroeër vanjaar aangekondig dat dit deel is van die uitbreiding van sy digitale nuusprodukte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….