Nuus 09:00
BULLETIN 20 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola verwelkom Botswana se opheffing van die verbod op groente-invoer
# Tshwane versnel steeds verordening-inspeksies by spazawinkels
# En die Amerikaanse regering kan tot stilstand gedwing word met die afkeuring van ’n bestedingswetsontwerp
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het Botswana se besluit verwelkom om die verbod op groente-invoere uit Suid-Afrika geleidelik op te hef. Botswana is ‘n belangrike handelsvennoot van Suid-Afrika en sedert 2021 was sowat 15-persent van Suid-Afrika se totale groente-uitvoere na dié land. Die ministerie se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê tydens die verbod het uitvoere na Botswana met byna die helfte afgeneem tot 272-miljoen-rand in 2023:
# Die DA sê ondanks die ontvangs van ‘n verstommende 76-miljard-rand van die regering, het Eskom ‘n voor-belasting verlies van 25-miljard-rand aangeteken, wat ontplof het tot 55-miljard-rand na belasting. Die party sê die ouditverslag, wat melding maak van materiële onsekerheid oor die kragnutsmaatskappy se vermoë om voort te gaan as ‘n groeiende onderneming, skep besondere kommer. Kevin Mileham van die DA sê die buitensporige elektrisiteitstariefverhogings wat miljoene kwesbare burgers in energie-armoede sal dompel is onnodig as Eskom eerder operasionele ondoeltreffendhede en kostebeheer aanspreek.
# Die Stad Tshwane sê hy gaan voort met verordeningsinspeksies van spazawinkels te midde van die regering se besluit om die spertyd vir registrasie uit te stel. Die metro het sedert 17 Desember vier-duisend-en-48 spazawinkels aangeteken. Die lid van die burgemeesterskomitee vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê hulle het een-duisend-709 registrasies ontvang van Suid-Afrikaanse spazawinkeleienaars en een-duisend-569 van buitelandse burgers:
# ʼn Hersiene korttermyn-bestedingswetsontwerp om te keer dat regeringsdienste tot stilstand kom, is in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers afgekeur. Die wetsontwerp het ʼn tweederde-meerderheid nodig om aanvaar te word, maar wetgewers het dit verwerp met 174 teen 235, waarvan 38 Republikeine was. Verkose president Donald Trump het dit ook ondersteun. Die jongste wetsontwerp sou regering-befondsing tot Maart verleng wanneer Republikeine beide kamers van die Kongres beheer. Die Republikeinse speaker van die Huis, Mike Johnson, sê hulle sal ʼn ander oplossing oorweeg.
# Tennis: Die bestuursliggaam vir beroepsmanspelers, die ATP, het bevestig 23,7-miljoen-rand is vanjaar uitbetaal ingevolge sy finansiële sekerheidsprogram. Die geld is onder 26 spelers verdeel. Die program waarborg ‘n minimum-inkomste vir sommige spelers onder die wêreld se voorste 250 wat nie groot bedrae geld soos die topvlak-spelers verdien nie, en slegs op toernooi-verdienste staatmaak. Die program is na Covid-19 ingestel toe die seisoen tydelik gestaak is, wat ernstige geldelike probleme vir talle spelers veroorsaak het.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-326-dollars-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-597-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-41-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….